Duisende versekeringseise stroom in

Versekeraars word deur die bank oorval met navrae en eise van inwoners in Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal wat die afgelope week se tornado-, hael- en vloedskade begin verreken.
Die skade ná vloede die afgelope week in Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal in Suid-Afrika gaan na verwagting miljarde rande beloop – veel meer as die R4 miljard wat in Junie weens die vloedskade en brande in onderskeidelik Kaapstad en Knysna geëis is.

Die eise sluit in dakke en mure wat ineengestort het en motorongelukke.

Ebrahim Asmal, Santam se hoof van eise, sê hulle het ’n “beduidende hoeveelheid eise” uit die drie provinsies gekry. Die versekeraar se eis- en noodhulplyn word “oorval” deur oproepe en Asmal gee toe hulle is oorweldig.

Hul eisespan doen hul bes om noodgevalle eerste te behartig.

Sonet Swart, hoof van eise by PSG Insure, sê die waarde van die eise sal mettertyd verander soos wat bestek opgeneem word van die skade. “Ons het ’n skerp toename in die volume eise ervaar, en verwag dat dit oor die volgende paar dae selfs meer sal toeneem soos wat mense hul eiendom behoorlik ondersoek.”

Standard Insurance sê hulle het sedert die begin van die week reeds 1 718 eise uit veral Gauteng en Mpumalanga ontvang. Enkele eise is ook reeds in Durban ingedien, maar die meerderheid eise vanuit KwaZulu-Natal moet nog inkom.

Ondanks die druk op versekeraars, raai hulle mense aan om eise so gou as moontlik in te dien. Standard Insurance raai mense aan om hul app te gebruik, terwyl Santam makelaars en kliënte aanmoedig om eise aanlyn in te dien indien dit nié ’n noodgeval is nie.

Assessors moet wel in sommige gevalle uitgestuur word om die omvang van die skade te bepaal en te help om herstelwerk te reël.

Mandy Barrett van die versekeringsmakelaar Aon Suid-Afrika beaam dat mense nie moet sloer nie. ’n Tekort aan huurmotors kan byvoorbeeld ontstaan.

“Daar is ook die jaarlikse sluiting van fabrieke in Desember wat jy in ag moet neem, wat kan meebring dat herstelwerk eers in die nuwe jaar gedoen word indien jy nader aan die skoolvakansie skade ly.”

Die skade in die Kaapse storms en Knysna-brande in Junie het tot meer as R4 miljard se verliese gelei, terwyl vloede in 2016 R700 miljoen se verliese meegebring het. (Op 10 November 2016 het tientalle motors by die Gillooly’s-wisselaar in Bedfordview verspoel). Dis slegs die waarde van versekeringseise wat uitbetaal is – miljoene rande se skade is nie verseker nie.

Swart sê mense moet oplet na skade wat steeds toegedien kan word indien bome wat deur die storms verswak is, omval. “Die beste is om nooit tydens ’n storm onder ’n boom te parkeer nie. Parkeer eerder in die oopte of onder veilige onderdakparkering, en liefs ook nie ondergronds nie, aangesien die risiko van vloede tydens storms toeneem.”

Swart sê om te bepaal of ’n boom steeds kan omval, moet jy die volgende vrae vra:

Hoe groot en oud is die boom?

Hoe naby is die boom aan ’n gebou? (’n Aanduiding van die risiko van skade.)

Kan jy enige wortels op die oppervlak sien? (Dit kan ’n aanduiding wees dat die boom nie diep geanker is nie.)

Is daar enige dooie takke of blare?

Is daar enige aanduiding van verrotting?

Kan jy insekskade sien?

Twee algemene probleme

Verskeie probleme waarteen versekeraars herhaaldelik waarsku, word nou weer ná dié storms opgetel.

1. Onderhoud

Die eerste daarvan is hoe belangrik is dat mense hul eiendom deurlopend onderhou. Swart sê dit kan dalk nie skade voorkom nie, maar kan wel sommige soort skade verminder deurdat probleemgebiede vroeg geïdentifiseer word.

Barrett waarsku dat Oktober (wat nog nie eens halfpad is nie) en November tradisioneel die maande met die swaarste weer in die noorde van die land is en mense voorbereid moet wees daarop.

Sy waarsku dat mense moet seker maak hul dakke se waterdigtheid word nagegaan en dat reënskade nie toegeskryf kan word aan gebrekkige onderhoud nie. Geute moet ook skoongemaak word en rioleringsuitlaatplekke moet skoon wees sodat water nie onnodig opdam nie

As jou huis oorstroom of jou dak lek, moet jy ook so gou as moontlik so veel as moontlik besittings uit die water verskuif om verdere skade te voorkom.

Dit bly ’n goeie plan om weerligafleiers buite jou huis te plaas en proppe te installeer wat jou elektronika teen kragstuwings beskerm, sê Barrett.

2. Onderversekering

Die tweede probleem is onderversekering. “Dit gebeur dikwels dat mense nie hul versekerde bedrag aanpas wanneer hulle huisverbeteringe doen of ekstra vertrekke aanbou nie,” sê Swart.

“Hulle laat ook nie hul huis waardeer om te bepaal of die versekerde bedrag reg is nie – hulle aanvaar net die jaarlikse inflasie-aanpassing op hul polisse as voldoende vir die styging in boukoste en professionele gelde.”

Verskeie huiseienaars het ook in Junie vanjaar tydens die brande in Knysna agtergekom hul versekering weerspieël nie die werklike koste om die eiendom te herbou of herstel nie.

Barrett sê die gaping tussen die verliese en versekerde waardes word al hoe groter. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!