Duisende wil u2019n kontrak losslaan
Duisende wil u2019n kontrak losslaan

Duisende wil ’n kontrak losslaan

Lloyd Zandberg
Inskrywings vir VIA (DStv-kanaal 147) en Coleske Artists se nuwe TV-reeks Die Kontrak – wat die volgende groot Afrikaanse kunstenaar sal kroon – het op 30 Junie om middernag gesluit met 1 976 oudisie-video’s altesaam op Facebook, Instagram, Twitter, en die NetNuus-app.

VIA-kykers sal moet wag tot die eerste episode van Die Kontrak, wat eers in September op die Afrikaanse leefstylkanaal begin, om uit te vind wie die top-8-finaliste is. Die top-24-finaliste is egter van dié week af reeds deur Coleske Artists genader.

Die mentors – Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn, en Dewald Wasserfall – moet dan uit dié 24 sangers elkeen twee finaliste kies wat dit vir ’n platekontrak van ’n miljoen rand met Coleske Artists moet uitspook.

“VIA en Coleske Artists is omtrent stomgeslaan met die hoeveelheid inskrywings vir Die Kontrak. Ons is nog meer beïndruk met die gehalte van die sangtalent daarbuite,” sê VIA se kanaalhoof, Izelle Venter.

“Dit gaan beslis vir ons vier mentors ongelooflik moeilik wees om net agt finaliste te kies. Hier kom heerlike kykgenot! Ons is absoluut oorweldig deur die diversiteit van die talent,” voeg Arnold Coleske van Coleske Artists by.

“Dit was baie moeilik om by ’n top-24 uit te kom, maar ons voel ons het afgekom op ’n groep deelnemers wat uniek en uitsonderlik talentvol is. Ons sien met opwinding uit na ’n strawwe kompetisie!”

Die Kontrak sal deur die broer-en-suster-duo Bobby en Karlien van Jaarsveld aangebied word. Die agt finaliste sal week na week ook uitgekyk word deur ’n kennerpaneel wat uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha, asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, bestaan.

Die wenner van Die Kontrak word op 23 November by vanjaar se eerste Afrikaans is Groot-konsert aangekondig.

Die wenner sal ’n platekontrak met Coleske Artists en ’n pasklaarloopbaan losslaan. TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar.

Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op hoogte van al die nuutste verwikkelinge te bly.

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer