Duister Oshana-boeke in NV
Duister Oshana-boeke in NV

Duister Oshana-boeke in NV

Die verval van finansiële en interne beheermaatreëls by streekrade is opnuut onder die soeklig.
Denver Kisting
Denver Kisting – Me. Jennifer van den Heever van die Popular Democratic Movement (PDM) sê sy is verbyster dat ’n veranderde rekeningkundige beleid glo verantwoordelik is vir verdwene miljoene by die Oshana-streekraad.

Dít kom nadat sy aangedring het op antwoorde van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling oor etlike miljoene Namibiese dollar wat glo by die Oshana-streekraad verdwyn het.

Dié ongerymdhede is in die kontantvloeistaat opgetel toe ouditeure van die kantoor van die Ouditeur-Generaal (OG) dié uitvloei opgemerk het.

Mnr. Derek Klazen, adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, sê die raad voer aan die bedrag – N$27 899 631 – is foutiewelik aan net eiendom, aanleg en toerusting toegeskryf.

Die waarheid is, volgens die raad, dat die bedrag bestaan uit ’n “opsomming van verskillende rekeninge waarvan eiendom, aanleg en toerusting een is”.

Die ander bydrae tot die reusekontantuitvloei is onder meer ’n toename in skuldenaars, voorsiening vir verlofdae, voorsiening vir slegte skuld, styging in debiteure en ’n afname in voorraadvlakke, lui die verduideliking van die raad wat Klazen by die NV ingedien het.

Van den Heever wou voorts ook weet hoe ’n verandering in die hantering van waardevermindering van bates deur die bestuursraad verkwalik word vir verdere miljoene wat oënskynlik soek is.

Die beleid is glo aangepas ten opsigte van bates wat deur staatstoelae befonds word.

Vir die finansiële jaar geëindig 31 Maart 2016 het die OG ’n gekwalifiseerde ouditmening uitgereik.

’n Gekwalifiseerde ouditmening dui daarop dat ’n ouditeur nié tevrede is met die toedrag van sake by ’n instelling nie of dat daar aspekte is wat kommer wek.

Klazen het die afgelope week in die NV gesê die raad se verduideliking is dat die verskil verband hou met ’n voorsiening op waardevermindering.

Volgens hom voer hulle aan die voorsiening is vir eiendom, aanleg en toerusting.

Klazen het voorts gesê hy is ingelig daar is tydens die oudit ’n verskil van sowat N$33 miljoen tussen die waarde van bates in die bateregister en dié in die finansiële state ontdek.

Ouditeure verbonde aan die kantoor van die OG het ’n aanvullende verskil van ook ongeveer N$33 miljoen opgespoor tussen die bateregister en waardevermindering in die state.

Die ouditeur het toe gemaan dat die raad moet toesien dat die regte bedrae in die finansiële state weerspieël word.

Volgens Klazen het die raad by navraag beweer hulle het glo vergeet het om die veranderde waardeverminderingsbeleid in die bateregisterberekenings toe te pas.

Die bedrae soos vervat in die finansiële state is glo volgens hulle die regte bedrae.

Van den Heever se bewering dat miljoene vermis word, word voldoende deur die antwoorde van die raad verklaar, sê Klazen.

Hy het terselfdertyd gesê die ministerie bly glo op die hoogte van die stand van finansiële bestuur by streekrade deur “in baie gevalle” roetine- en spesiale ondersoeke van stapel te stuur. “Ek moet egter noem dat sulke ondersoeke baie duur en tydrowend is en, derhalwe, moet sulke ondersoeke teikengerig wees en plaasvind waar en wanneer hulle benodig word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!