Duitse beleggers katvoet vir NEEEF
Duitse beleggers katvoet vir NEEEF

Duitse beleggers katvoet vir NEEEF

Die president van die Duitse Federale Raad het beklemtoon Duitse besighede wil plaaslik belê, maar wetlike sekerheid is noodsaaklik.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Die president van die Duitse Federale Raad, mnr. Daniel Günther, sê Duitse beleggers staan gereed om in Namibië te belê, maar beleidsonsekerhede oor die herverspreiding van rykdom en eiendomsregte is ’n struikelblok.

Günther, wat ’n politieke en sakeafvaardiging na Namibië lei, het beklemtoon Duitse besighede wil plaaslik belê, maar wetlike sekerheid is noodsaaklik.

“’n Mens moet baie versigtig wees met die bereiking van gelykheid tussen wit en swart – dit is ’n geleentheid. Maar ons kan nie ignoreer dat besighede wat geld belê ’n aparte kwessie is nie. Die twee moenie verwar word nie. As dit by sake in Namibië kom, is dit belangrik dat sekere wette gedefinieer word sodat buitelanders die een of ander vorm van sekuriteit kan hê as hulle wil belê,” het Günther gister by Staatshuis gesê, waar hy met pres. Hage Geingob vergader het.

Hy het gesê dit is belangrik vir beleggers om te weet hoe wette hul belange op die lange duur sal beskerm.

Geingob het gesê ongelykheid in Namibië, wat deur die Duitse volksmoord en apartheid veroorsaak is, bly steeds ’n bedreiging ongeag die regering se waarborge.

Hy sê Namibië het bewys hy onderwerp homself aan die oppergesag van die wet.

Die president het ook na die voorgestelde verkoop van die Erindi- private wildreservaat aan ’n buitelander verwys, hoewel so baie Namibiërs sonder grond is.

Geingob het bygevoeg die aanspreek van ongelykheid moet voortgaan.

“Hoe belê jy in 'n land wat môre in vlamme kan opgaan? In ons land is ongelykheid op kleur gegrond, anders as in ander lande. Ons sê nie ons gaan van hierdie mense vat en vir die armes gee nie . . . of van witmense vat en aan swartmense gee nie, maar swartmense is hier,” het Geingob gesê.

Toe die ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu om kommentaar genader is, het hy gesê Günther se opmerkings oor beleidsonsekerhede mag dalk net ’n verskoning wees omdat Duitsland nie belowende geleenthede in Namibië sien nie.

Volgens Kakujaha-Matundu word beleggers nie afgesit deur beleidsonsekerhede of selfs oorloë soos in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRC) en Sirië, waar winste groot is nie.

“Ek glo buitelandse beleggers sien nie enige belowende geleenthede hier nie omdat Namibië ’n klein mark is, weens die afstand tot by die mark, hoe naby ons aan Suid-Afrika, wat ’n baie groot mark is, geleë is, en weens ekonomieë van skaal nie,” het hy gesê.

Hy het ook verwys na die Nuwe Konsepraamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) as die grootste wit olifant, maar het bygevoeg die omstrede 25%-eienaarsklousule, waarvolgens besighede in wit besit 25% daarvan aan voorheen benadeeldes moet verkoop, is nou van die baan.

“Dit lyk of hulle net die regering se arm wou draai om verskeie toegewings te maak wat nie werklik beleggers lok nie,” het Kakujaha-Matundu gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!