Duitse dokter lief vir rugby en Namibië

Dani Booysen
Opbrengste uit Namibia Media Holdings se Wêreldbekerrugby-fondsinsameling vir die Amos Meerkat-projek vir kleuterskole staan op N$6 750.

Die bod in die jongste veiling is toegeslaan op dr. Michael Honcamp, ‘n geneesheer wat in Mindelheim, Duitsland woon.

Hy het N$1 250 geskenk vir ‘n WB-rugbybal geteken deur Namibiese spanlede.

Honcamp (52) is ‘n aanlynintekenaar op die Allgemeine Zeitung.

Hy en sy gesin het al vyf keer na Namibië gereis en het ‘n liefde vir rugby ontwikkel nadat hulle vier jaar gelede in Suid-Afrika toevallig ‘n wedstryd op TV gesien het.

“Ons was werklik gefassineer en probeer nou so veel moontlik wedstryde kyk,” sê Honcamp. “Rugby is nie baie gewild in Duitsland nie, so ons ondersteun altyd die Namibiese span en het al hulle Wêreldbekerwedstryde gekyk, al moes ons baie vroeg op ‘n Sondag opstaan.”

Nieu-Zeeland en Australië het volgens die arts ‘n kans om die eindstryd te haal, maar hy dink die Springbokke gaan die keer die beker wen.

“Ons is almal lief vir Namibië en geniet die wonderlike natuurtonele en uitstaande gasvryheid van die mense baie,” vertel Honcamp. “Om op hoogte van Namibiese nuus te bly, lees ek elke dag die AZ. Dis hier waar ek van die veiling gelees het.”

“Ek wou die projek ondersteun omdat ek dink opvoeding is van kardinale belang om mense se lewens te verbeter, veral in landelike gebiede,” sê Honcamp. “Die Meerkat-projek het na ‘n perfekte geleentheid gelyk om voorskoolse onderwys te verbeter.”

Sy gesin ondersteun ook reeds vir jare die organisasie Steps for Children, ‘n Duitse projek wat na weeskinders in Namibië omsien. “Ons betaal elke maand vir die opvoeding van ‘n kind in Namibië,” verduidelik hy.

Mindelheim is in die suide van Duitsland naby München.

Nog drie van hierdie versamelstukke is op die spel. Sien hiernaas hoe om jou bod te maak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer