Duitsers oorweeg Namibiese bosbiomassa
Duitsers oorweeg Namibiese bosbiomassa

Duitsers oorweeg Namibiese bosbiomassa

Hamburg wil die gebruik van steenkool oor die medium termyn uitfaseer.
Namibië het onlangs voelers na Duitsland uitgesteek as voornemende vennoot in die land se planne om na groener energie oor te skakel.

Rolspelers in die Namibiese biomassabedryf het die 19de houtenergiekongres in Würzburg, Duitsland, bygewoon.

Die afvaardiging na Duitsland het bestaan uit amptenare van die nasionale beplanningskomissie, die ministeries van landbou, water en bosbou, asook nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling. Kenners van omgewingskwessies, navorsers en verteenwoordigers van die plaaslike biomassabedryf, wat afgevaardigdes van die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA) ingesluit het, was ook teenwoordig. Verder het verteenwoordigers van die Walvisbaai-korridorgroep, asook die Namibië Biomassa-nywerheidsgroep (N-BiG) die geleentheid bygewoon.

Die stad Hamburg beoog om die gebruik van steenkool oor die medium termyn met die gebruik van biomassa te vervang om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.

Duitsland het nie genoeg biomassa van sy eie nie, wat Namibië geleenthede bied.

Die konferensie se tema was “Volhoubare oplossings vir klimaatsbeskerming”.

Meer as 250 entrepreneurs het die konferensie bygewoon.

“Duitsland het besluit om steenkoolverbranding te staak. Bosbiomassa in Namibië kan ‘n rol in dié land se biomassa-invoersektor speel.

“Besluite oor beleggings sal binne die volgende drie tot vyf jaar geneem word,” het mnr. Matthias Held, German Wood Energy Association se besturende direkteur, gesê.

Mnr. Joseph Hailwa, direkteur van bosbou in Namibië se ministerie van landbou, water en bosbou, het gesê hulle kon Namibië se bosbiomassa suksesvol bevorder en met rolspelers in Duitsland skakel.

Deelnemers aan die konferensie het maniere ondersoek om Namibië se indringerbos op groot skaal te benut, asook tegnologieë oorweeg wat geskikte oplossings vir Namibië se verbossingsprobleem bied.

Hoe Namibië tegnologie beter kan inspan en houtskerwe vir onder meer verhittings- of verkoelingsdoeleindes in woongebiede kan benut, asook die moontlikheid om sonkrag- en biomassategnologie te kombineer, is bespreek.

Die Namibiese afvaardiging het samewerkingsgeleenthede met ’n gevorderde navorsings- en ontwikkelingsnetwerk ondersoek. ’n Namibiese navorsingsentrum vir biomassa word ook beoog.

Namibia Nature Foundation (NNF) se uitvoerende direkteur, mnr. Angus Middleton, sê dit was interessant om met lede van die gemeenskap asook groot energiebedrywe te skakel en hulle weet watter “huiswerk” om te doen alvorens die volgende stap gedoen word.

Bosindringing raak meer as 30 miljoen ha in Namibië, oftewel ‘n derde van die land.

Na raming is tot 300 miljoen ton biomassa beskikbaar vir volhoubare verbruik, wat met die herstel van weiding sal help.

Volgens N-BiG word tans net 1,36 miljoen ton bosbiomassa per jaar gebruik en moet die oes hiervan aansienlik vergroot om sosioëkonomiese en ekologiese voordeel daaruit te trek.

Die konferensie is deur die GIZ-projek vir bosbeheer en -gebruik gereël (BCBU).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!