Duitsland ondersteun hernubare krag
Duitsland ondersteun hernubare krag

Duitsland ondersteun hernubare krag

Augetto Graig
Augetto Graig



Duitsland het sy vertroue op 16 Januarie opnuut in hernubare krag geplaas, toe dié land se regering 'n €40 miljard-ooreenkoms met Namibië se steenkoolstreke aangegaan het.

Dít om steenkoolaangedrewe kragopwekking teen 2038 uit te skakel.

Volgens Financial Times word een van die laaste struikelblokke in die energie-oorgang van Europa se grootste ekonomie met dié stap uit die weg geruim.

Me. Angela Merkel se regering het verlede jaar reeds belowe om met steenkoolaangedrewe kragstasies weg te doen.

In Maart sal die 2020 Berlyn-kragtransformasiegesprek wêreldkenners van groenkrag-transformasie byeenbring.

Duitsland verleen sedert 2015 hulp aan Namibië in sy poging om meer hernubare krag te gebruik.

In November verlede jaar het die nuwe Duitse ambassadeur in Namibië, mnr. Herbert Beck, 'n sonkragstelsel aan die Bright Hill-kleuterskool op Okuryangava oorhandig.

Intussen befonds die Duitse regering die Proceed-organisasie tot 2020, wat elektrisiteitsnetwerke in landelike gebiede bevorder om onafhank­like kragverskaffing te vergemaklik.

Duitse maatskappye is ook nou betrokke by geleenthede wat Namibië se nuutste enkelkoperstelsel bied, wat privaat kragverskaffers in staat stel om krag direk aan sekere verbruikers te verkoop – sonder NamPower as middelman.

NamPower se eie Refit-program is verantwoordelik vir die bou van die meeste hernubare kragstasies wat tans of binnekort krag aan Namibië se elektrisiteitsnetwerk sal lewer.

Volgens die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) is 14 hernubare kragopwekkingslisensies reeds deur die Refit-program aan onafhanklike krag­opwekkers toegestaan.

Hiervan word die Unisun Energy-aanleg by Okatope in die Oshikotostreek nog gebou.

Die ander 5 MW-kragaanlegte is reeds in bedryf, insluitende Ombepo Energy se windkragplaas op Lüderitz.

Die res is almal sonkragaangedrewe.

NamPower koop ook hernubare krag by GreeNam Electricity se twee 10 MW-sonkragaanlegte op Mariental en Keetmanshoop, 4,5 MW by Omburu Sun Energy op Omaruru, en 44 MW by Namibië se grootste huidige bielie van 'n sonkragplaas, Hardap Alten Solar Power, wat ook buite Mariental geleë is.

Volgens die Spaanse ­maatskappy Alten se Namibiese bestuurder, mnr. Mario Rodríguez, is hulle in hul noppies met hul belegging in die Hardap-vennootskap met NamPower.

Hy sê die aanleg vaar goed en lewer voortdurend teen sy maksimum ­kapasiteit.

Alten sou in enige verdere Namibiese sonkragontwikkeling belangstel, sê hy.

Oor die Hardap-aanleg sê ­Rodríguez: “Dit sou wonderlik wees om te kan uitbrei of om batterye te laat installeer om krag ook saans te kan verskaf, wanneer die vraag hoog is.”

Hulle beoog om voor 14 Februarie vir 'n 20 MW-sonkragaanleg naby NamPower se Khan-substasie te tender, sê hy.

Onderhandelinge tussen NamPower en ander maatskappye duur voort.

Diaz Wind Power beoog 'n 44 MW-windkragaanleg in die sperrgebiet naby Lüderitz, en Paramount Infrastructure Development ­onderhandel om 'n 22 MW- gekonsentreerde ­sonkragaanleg langs Khorixas in die Kunenestreek te bou.

Die noordelike kragverspreider Nored onderhandel met Dezman Solar Investment om 'n 2,5 MW-sonkragaanleg vir Okongo te bou, met Ino Investment om nog 2,5 MW uit sonkrag naby Outapi op te wek, en met Zikomo Power vir 'n aanleg om 5 MW se sonkrag aan Oniipa te verskaf.

Nored onderhandel ook met Ark Industries oor 'n 5 MW-biogasaanleg vir Ondangwa.

Erongo Red besit 'n 3,8 MW-sonkrag­aanleg, gebou deur OLC Arandis, en Hopsol se 5 MW-sonkragaanleg op Otjiwarongo voorsien Cenored van hernubare energie.

Op Oshakati bou Oshakati Premier Electric, 'n vennootskap tussen die plaaslike owerheid en NamPower, ook sy eie 5 MW-sonkragaanleg.

Plaaslike privaat ondernemings ­ontwikkel ook hul eie hernubare kragbronne.

Namdeb onderhandel tans met #Oab Energy om 8 MW se windkrag vir die Elizabeth-myn in die ||Kharasstreek te verskaf, terwyl Ohorongo se sonkragaanleg op die plaas Sargberg, wat deur Sun EQ Four Invest gebou is, reeds 5 MW verskaf.

NamPower se niehernubare pogings om kragbronne uit te brei sluit 'n 120 MW-aanleg op Arandis in wat deur swaar brandstofolie (HFO) aangedryf sal word, en 'n Xaris Energy-gasaangedrewe aanleg word vir Walvisbaai voorgestel.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer