Duitsland se voorstel oor versoening afgelag

Die Ovaherero-opperhoof sê voorgestelde fokusgebiede behoort deur Namibiese belastingbetalers gefinansier te word.
Catherine Sasman
Catherine Sasman

‘n Dokument waarin voorstelle aan die hand gedoen word in die voortgesette bilaterale versoeningsdialoog oor die volksmoord van 1904 tot 1908, doen op sosiale media die ronde.

Hierin word voorgestel dat enige Duitse ingryping die geraakte gemeenskappe asook Namibië se ontwikkelingsprioriteite tot voordeel moet strek.

Die PowerPoint-dokument is vermoedelik deur Duitsland se ambassadeur in Namibië, mnr. Christian Schlaga, voorberei en in Oktober 2017 voorgelê. Schlaga wou egter nie kommentraar lewer oor die inhoud van die dokument of wie die outeur is nie.

Volgens die dokument sal die Duitse ingryping gelei word deur Namibië se ontwikkelingsprioriteite en “tasbare resultate” meebring wat geraakte gemeenskappe sal ervaar.

Die voorgestelde implementeringstydperk is vanaf vanjaar tot 2030, en sal in oorleg met die Namibiese regering se Visie 2030 en die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling plaasvind.

“Die tydperk kan as die dekade van versoening en samewerking verklaar word,” lui die dokument.

In die dokument word voorgestel dat die programme vir ingryping geïmplementeer word in sewe streke - Kunene, Otjozondjupa, Erongo, Omaheke, Khomas, Hardap en //Kharas - waar “’n betekenisvolle aantal voorheen geraakte gemeenskappe woon". Dit wys egter ook daarop dat alle ingrypings die totale bevolking in die geteikende streke tot voordeel moet strek.

Die fokusgebiede vir die ingrypings is beroepsopleiding (€80 miljoen), grondhervorming (€70 miljoen), landelike elektrifisering (€54 miljoen), behuising (€50 miljoen), asook streeksontwikkeling en ondersteuningsmaatreëls (€35 miljoen). In totaal beloop dit teen die huidige wisselkoers €289 miljoen of ongeveer N$3,5 miljard.

Drie opsies vir die programmering en implementering van die ingrypings word voorgestel. Dit sluit in eenmalige begrotingsondersteuning waar geen regstreekse Duitse betrokkenheid of deelname bemerk kan word nie en waar die geraakte gemeenskappe nie noodwendig die teiken vir die ingryping is nie.

‘n Tweede opsie is ‘n “vinnige betaling” met regstreekse implementering deur die Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) (die Vereniging vir Internasionale Samewerking) saam met gekontrakteerde Namibiese deskundiges.

‘n Derde opsie is die stig van ‘n nuwe trustfonds en organisasie, waarvoor Duitsland en Namibië saam verantwoordelik sal wees. Dit sluit die totstandkoming van ‘n gesamentlike Duits-Namibiese loodskomitee in.

Opperhoof Vekuii Rukoro van die Ovaherero het tydens ‘n nuuskonferensie verlede jaar die gedagte van ‘n spesiale fonds gekritiseer.

Rukoro het gesê die Duitse regering het sonder beraadslaging eensydig besluit op die spesiale inisiatief, en dat ‘n spesiale trust, soos nou voorgestel word, in alle waarskynlikheid deur die Nasionale Beplanningskommissie geadministreer sal word.

Die spesiale inisiatief van €20 miljoen was bedoel vir ontwikkelingsprojekte in 80 geïdentifiseerde gemeenskappe. Rukoro het destyds gesê die geld wat vir die spesiale inisiatief toegeken is, het “nooit die sogenaamde geraakte gemeenskappe” bereik nie.

“Ons verwerp die beginsel dat hulle (die Duitse regering) diegene is wat besluit wat ons behoort te kry en wat hulle vir ons vir hê; hulle weet geensins wat ons wil hê nie,” het hy gesê.

“Is dit wat ons verloor het? Is dit wat hulle dink hulle van ons weggeneem het? Nee, hulle het ons grond weggevat,” het Rukoro verlede week gesê.

Hy het toe ook ‘n vroeëre mening oor die voorgestelde trustfonds herhaal, wat hy sê vir hospitale, skole en teerpaaie sal betaal.

“Dit is dinge wat met belastingbetalersgeld deur die Namibiese regering betaal moet word. Hoekom moet dit met ons reparasiegeld betaal word? Dit is bloedgeld van ons ouers,” het Rukoro gesê.

Die tegniese komitees van die Nama tradisionele leiersvereniging asook die Ovaherero en Ovambanderu Volksmoordstigting het vantevore Duitsland se spesiale inisiatief gekritiseer en dit as ‘n mislukte “foefie” beskryf.

Hulle dring daarop aan dat reparasies vir die geraakte gemeenskappe gepas moet wees om die skade te herstel wat Duitse kolonialisme aangerig het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!