Duitsland steun nasionale parke
Duitsland steun nasionale parke

Duitsland steun nasionale parke

'n Bewaringsfooi as deel van toegangsfooie by alle nasionale parke word beplan.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Nóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale parke ingepomp het.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, en dr. Gabriele Geier, hoof van samewerking van die Duitse ambassade, het Donderdag in Windhoek ses parkbestuur- en twee toerisme-ontwikkelingsplanne bekend gestel.

Die nuwe parkbestuursplanne is vir die Nkasa Rupara, Mudumu, Bwabwata, Popa-valle, Khaudum en een toerisme-ontwikkelingsplan vir die Noordooste. Die Tsau //Khaeb (Sperrgebiet) Nasionale Park het 'n parkbestuursplan, asook 'n toerisme-ontwikkelingsplan.

“Die parkbestuursplanne val saam met die operasionele vyfjaarplanne wat sal help met die jaarlikse begroting vir parkbestuur en dien as besigheidsraamwerke vir parke,” het Shifeta gesê.

“Die twee hersiene toerisme-ontwikkelingsplanne sal as grondslag dien om die toerismepotensiaal van die parke te ontsluit deur die toekenning van konsessies.”

Shifeta sê die toerisme-ontwikkelingsplanne het nege nuwe konsessies in die Tsau //Khaeb (Sperrgebiet) Nasionale Park geïdentifiseer en vier konsessies in die noordoostelike parke – drie in Bwabwata en een in Mudumu.

“Hierdie konsessies dra grootliks by tot ekonomiese ontwikkeling van ons land en armoede-verligting vir verbeterde lewensbestaan van landelike gemeenskappe binne en aangrensend tot die parke.”

Shifeta het beklemtoon dat die noordoostelike parke met die uitsonderlike wildlewe die hart is van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA).

“Kaza huisves die wêreld se grootste olifantbevolking en is die tuiste van groot getalle vlagskipspesies.”

Namibië is ook tans die huidige voorsitter van Kaza vir 2020-'21.

Shifeta sê die nasionale park wat as Tsau //Khaeb (Sperrgebiet) herdoop is, se bioversiteit is van wêreldwye aansien met sy endemiese flora van die Nama Karoo sukkulente bioom.



TOEKOMS

“Bestuurs- en toerisme-ontwikkelingsplanne vir al die beskermde gebiede in die land word ontwikkel en hersien. Die ministerie is besig om dié planne vir die Nasionale Parke van Etosha, Mangetti, Namib-Naukluft, Dorob en Skedelkus te hersien,” sê Shifeta.

“Die implementering van hierdie planne sal finansieel deur die begroting van die ministerie ondersteun word. Die bekendstelling van 'n bewaringsfooi as deel van parktoegangsfooie vir alle nasionale parke sal ook 'n aansienlike impak op die bestuur van parke en die implementering van parkbestuursplanne maak.”

Bykomende steun van ontwikkelingsvennote en die Vriende van die Park-program is volgens Shifeta nog 'n inisiatief wat ontwikkel word vir die bestuur van beskermde gebiede en wildlewe.

Hy het die Duitse regering deur die KfW “as vriende van ons parke” vir hul voortdurende vriend­skap en steun vir die belangrike ontwikkelingsprogram bedank.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!