Duitsland versigtig vir beleggings in Namibië
Augetto Graig - Duitse beleggers het miljoene euro wat ’n beleggingsheenkome in Namibië soek, maar is bekommerd oor die Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) en ander kwessies wat dit moeilik maak om sake in die land te doen.
Duitse sakelui wat Namibië verlede week besoek het, sê dit is onder meer moeilik om ’n besigheid in die land te registreer of selfs net ’n sakebesoek aan Namibië te bring. Vyftien verskillende maatskappye het Namibië onder die vaandel van die German Africa Business Association en die Duitse ambassade, in samewerking met die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) en die Namibiese Beleggingsentrum, besoek om hulle van beleggingsgeleenthede in veral infrastruktuur, hawens en logistiek op hoogte te bring.
Günther Storbeck van North European STAR het gesê sy maatskappy wag op nog terugvoering van NamPower na hulle vir ’n 150 MW-kragstasie op Walvisbaai getender het. Wat Storbeck se voorstel uniek maak, is dat die kragstasie in Europa staan, maar tans nie gebruik word nie en net 6 000 ure werk verrig het. Hy stel voor dié kragstasie word afgebreek, na Walvisbaai vervoer en dáár opgerig.
Die koste hieraan verbonde is ongeveer 50 miljoen euro (net meer as N$800 miljoen), veel minder as die N$3 miljard tot N$7 miljard wat vir die Xaris-projek begroot is. Storbeck se voorgestelde kragstasie het drie opwekkers en kan binne 18 tot 20 maande in werking wees, sê hy.
Volgens Storbeck was die tendervereistes onduidelik en is dit telkens tot groot frustrasie verander. Sy maatskappy het dus eerder verkies om in Ghana te tender. Hy het tydens sy besoek die kans gehad om met die minister van myne en energie, mnr. Obeth Kandjoze, te gesels. Storbeck sê Kandjoze was nie tevrede met die stand van sake nie en het gesê hy moet hom kontak as dinge weer skeefloop. Tans wag Storbeck op NamPower se besluit wat hopelik voor die einde van die maand bekend gemaak sal word.
Nog een van die besoekende sakelui, Stefan Schultheis van Gauff Ingenieurskonsultante, wil binne die volgende 12 maande 100 miljoen euro in die ontwikkeling van pad-, spoor- en waterinfrastruktuur belê. Die Baynesdam en -kragprojek in die Noorde prikkel sy maatskappy se belangstelling en die maatskappy is tans in gesprek met NamWater, NamPower en die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling.
Andreas Woitzik van Deutsche Infrastructure Finance sê die finansiële sektor in Duitsland stel baie in Namibië belang en het “groot geld” tot hul beskikking. Namibië se politieke stabiliteit en goeie bestuur is aanloklik. Hy waarsku egter: “Direkte buitelandse beleggings is soos ’n koedoe. Dit skrik maklik en dan is dit weg.”
Een só ’n afskrikmiddel is NEEEF, wat bemagtigingsaanstellings en -eienaarskap vereis. Dié beleid, tesame met pres. Jacob Zuma se besoek aan Namibië vandeesweek, is skrikwekkend vir “finansiële koedoes”, sê Woitzik.
Gunther Sperber van Spiderplow is reeds ses weke besig om twee maatskappye in Namibië te registreer. Buiten vir die sloerdery met registrasie bekommer hy hom oor die feit dat hy nie ’n beleggerspermit sonder registrasie kan kry nie.
Boonop moet ’n mens self teenwoordig wees om ’n besigheid soos syne te bestuur, sê hy. Sperber moes ná ’n lang gesukkel 50 euro vir ’n sakevisum betaal, terwyl toeriste nie dié onkoste het nie. In Botswana kom geen sulke struikelblokke voor nie, sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie