Duitsland wil SA met groen krag kom help, su00ea Merkel
Duitsland wil SA met groen krag kom help, su00ea Merkel

Duitsland wil SA met groen krag kom help, sê Merkel

Sarel van der Walt



Duitsland wil Suid-Afrika help om sy sektor vir hernieubare energie te ontwikkel, sê Angela Merkel, die Duitse bondskanselier.

Sy het Donderdag met haar amptelike besoek aan pres. Cyril Ramaphosa in die Uniegebou in Pretoria op ’n mediakonferensie gesê sy en Ramaphosa en hul onderskeie afvaardigings het lank gesels oor Suid-Afrika se energie-uitdagings en die oorskakeling van ’n energiestelsel wat op steenkool gegrond is, na een van hernieubare energie.

Ramaphosa sê Merkel het aan hom verduidelik hoe Duitsland dit reggekry het om nou byna geen steenkool meer te gebruik nie.

“Ons is nog heeltemal afhanklik van steenkool, maar ons pad na hernieubare energie het ook nou begin,” het die president gesê.

“Steenkool sal vir eers nog belangrik wees, maar hernieubare energie sal ’n al hoe groter rol begin speel.

“Ons kan baie leer uit Duitsland se ervarings op dié vlak,” het Ramaphosa bygevoeg.

Suid-Afrika se energie-uitdagings was later die dag op ’n byeenkoms van Suid-Afrikaanse en Duitse sakelui by ’n hotel oorkant die Uniegebou ook een van die besprekingspunte.

Ramaphosa het op dié vergadering, waar hy meer Duitse beleggers na die land probeer lok het, gesê Suid-Afrika sal alles moontlik doen om stabiele kragvoorsiening te verseker.

André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof van Eskom, het ook dié vergadering bygewoon.

Merkel, wat op ’n amptelike besoek aan Suid-Afrika is, is vroeg Donderdagoggend met ’n kanonsaluut van 19 skote by die Uniegebou verwelkom.

Ná die seremonie het Ramaphosa en Merkel se onderskeie afvaardigings vir sowat anderhalfuur lank vergader.

Ramaphosa sê die gesprekke het baie goed verloop.

Merkel, wat beskou word as die magtigste vrou op aarde en wat die laaste dekade of wat ’n sleutelrol gespeel het om standvastigheid in Europa te vestig, het op die mediakonferensie gesê Duitsland wil buiten op energievlak ook met Suid-Afrika saamwerk op die gebied van vaardigheidsontwikkeling en onderwys.

Sy sê Duitsland wil Suid-Afrika help om sy uitdagings te oorkom. “Skouer aan skouer sal ons met julle saamloop.”

Sowat 600 Duitse maatskappye, wat werk aan sowat 100 000 mense verskaf, het reeds belange in Suid-Afrika.

Onder hulle tel groot maatskappye soos Siemens, Mercedes-Benz, BMW en Volkswagen.

Ramaphosa sê Duitsland is een van Suid-Afrika se strategiese vennote. Hy en Merkel wil albei hê die kommunikasie tussen die twee lande, en die wedersydse handel, moet verder uitbrei.

Suid-Afrika is Duitsland se grootste handelsvennoot in Afrika, terwyl Duitsland Suid-Afrika se naasgrootste handelsvennoot wêreldwyd is.

Ramaphosa sê Duitsland is boonop een van Suid-Afrika se vernaamste ontwikkelingsvennote.

Hy wil ook hê Duitse maatskappye moet met universiteite, kolleges en ander opleidingsinstansies hier kom saamwerk op die gebied van vaardigheidsontwikkeling.

Die twee leiers het onder meer ook gepraat oor die twee lande se samewerking in die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, en oor die situasie in Libië.

Verskeie bilaterale sake is ook bespreek.

Suid-Afrika neem dié naweek die voorsitterskap van die Afrika-unie (AU) by Egipte oor. Op sy beurt word Duitsland later vanjaar voorsitter van die Europese Unie (EU).

Die AU en die EU hoop om in dié tyd ’n gesamentlike beraad te hou.

Merkel, wat in 2007 ook ’n amptelike besoek aan Suid-Afrika gebring het toe Thabo Mbeki nog president was, sê toerisme speel ook ’n groot rol in die verhoudinge tussen die twee lande.

Suid-Afrika is een van Duitse toeriste se gewildste bestemmings.

Ramaphosa het op die byeenkoms tussen die Suid-Afrikaanse en Duitse sakelui gesê daar is ’n ooglopende politieke wil by sowel die Suid-Afrikaanse en Duitse regering om die betrekkinge tussen die twee lande te verdiep. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!