Duitsland wink ná moeilike begin

Geen uitdaging kan Christine Hausiku onderkry nie.
Tanja Bause
Tanja Bause – Christine Hausiku (24) vlieg vandag na Paderborn in Duits­land om vir 'n jaar lank as au pair by 'n familie te werk.

Wat dit so besonders maak, is dat Christine 'n weeskind is wat in die Hope Village Orphanage in Windhoek grootgeword het en Duits geleer het sodat sy Duitsland toe kan gaan.

“Ek is in 'n klein nedersetting buite Rundu gebore en het op elfjarige ouderdom Windhoek en Hope Village toe gekom.”

Christine het graad 10 by die Hoërskool David Bezuidenhout geskryf, maar nie geslaag nie.

“Ek het geweet akademie is nie vir my nie en al sou ek graad 10 oor en oor doen, sou ek nie slaag nie. Ek sou net my tyd mors. Die mense by Hope Village het gesê ek moet aangaan, maar ek het daarteen besluit en het 'n driejaarkursus in berading voltooi.”



MENTOR

Die hof het Susanne Hoff in 2017 tot 300 ure gemeenskapsdiens gevonnis. Sy het besluit om dit by Hope Village te doen en het so vir Christine leer ken.

Hoff vertel: “Ek is in Maart gevonnis en in Julie was my 300 ure klaar. Ek kon egter nie wegbly nie en is tot vandag toe betrokke. Ek ken die familie in Duitsland en ek het vir hulle Christine se nommer gegee om haar te kontak, omdat sy gretig is om te leer, die wêreld te sien, haar wêreld te verbreed en 'n regte ‘go getter’ is.

“Sy is die eerste persoon van Hope Village wat oorsee gaan en ek glo sy sal paaie vir ander kinders oopmaak om ook te kan gaan. Sy sal ook die saadjie by ander kinders plant dat daar 'n wye wêreld en ander lewe daar buite is behalwe Hope Village en skool toe en terug.”



DUITSLAND

Christine sê: “Ek het in Oktober 2019 'n oproep van Duitsland ontvang. Dit was van die familie waar ek nou gaan bly wat vir my gevra het of ek daar wil kom werk. Dit was 'n groot geleentheid en ek het onmiddellik vir 'n paspoort gaan aansoek doen.”

Nadat sy haar paspoort gekry het, is sy en Susanne Duitse ambassade toe vir die visum.

“Hulle het vir my gesê ek moet basiese Duits ken en ek moet 'n kursus in Duits doen. Ons het by hulle uitgestap en by die Goethe-sentrum ingestap om vir 'n kursus in te skryf. Ek het plek gekry en begin, toe breek die Covid-19 pandemie uit en al my planne ruk tot stilstand. Gelukkig het die familie gesê hulle sal vir my wag.”

Sy en die familie was die afgelope jaar per WhatsApp in kontak.

“Hulle het vir my foto's gestuur van hoe dit daar lyk en ek stuur vir hulle foto's. Ek weet hoe almal lyk en dit voel asof ons mekaar reeds ken.

“Hulle het tien kinders, maar hulle is almal groot en net een is nog in die huis. My werk sal hoofsaaklik wees om hulle twee honde op te pas. Ek moet met hulle gaan stap en in die park gaan speel. Ek hou baie van honde en sien baie daarna uit.

“Ek is opgewonde. Ek weet daar is 'n groot vreemde wêreld daar buite, maar ek moet die ander kant van die wêreld op my eie beleef.”

Christine was nog nooit in haar lewe op Swakopmund of buite die grense van die land nie, om nie eens aan 'n vliegtuig te dink nie. Sy laat haar nie hierdeur onderkry nie en sy het haarself verlede jaar besig gehou.

“Ek het by die Rooi Kruis as vrywilliger aangemeld en daar grotendeels met die pandemie uitgehelp. Ek het ook by Hope Village in die meisies se huis veral met berading uitgehelp en vir die afgelope weke het ek by die CIDS Centre (Child Intervention and Disability Support) uitgehelp. My diploma in berading het ook hier handig te pas gekom en ek het besef berading is beslis my toekoms. Ek wil beslis weeskinders help.”



WEESHUIS

“Die lewe in 'n weeshuis is nie maklik nie. Daar is 'n huismoeder, maar sy het 24 ander meisies om na te kyk. Sy moet skoonmaak, kosmaak en klerewas. Haar hande is vol en jy is een van baie. Ons was vier in 'n kamer en daar is altyd 'n geraas. Musiek wat speel of mense wat gesels, maak leer, konsentreer en studeer amper onmoont­lik tensy jy tot elfuur die aand wag wanneer almal slaap en dit stil is.”

Sy sê daar is geen verjaardagkoeke of iemand wat jou aanmoedig as jy in 'n toets goed vaar nie. Daar is so baie ander kinders wat ook soms presteer en die geld is te min om vir almal koeke te gee.

“Dit is dieselfde as die skool 'n brief stuur en byvoorbeeld sê môre moet die kinders N$20 en twee worsrolletjies skool toe bring. Nou het jy vyf of selfs 10 kinders met dieselfde brief en die weeshuis kan dit nie bekostig nie. Dan gaan al die weeskinders die volgende dag nie skool toe nie, wat dan weer veroorsaak dat ons geboelie word.”

Volgens haar word weeskinders in elk geval meer geboelie.

“Ons het nie die nuutste klere nie en baie van ons klere is oud en stukkend. Ons kan nie saam op klasuitstappies gaan nie, want daar is nie geld nie. Of soos met 'n kampnaweek het ons nie 'n slaapsak wat jy moet hê om saam te kan gaan nie.

“Soms moet baie van ons weens ons MIV/vigs-status 'n mengsel van baie sterk tablette neem wat ons moeg maak, soveel so dat ons die dag nie skool toe kan gaan nie.

“Dan word ons geboelie, omdat ons gereeld van die skool wegbly. Die ander kinders verstaan nie en weeskinders word gereeld afgeknou.

“Ons het geen rekenaars of internet by die sentrum nie en wanneer skoolwerk navorsing behels, kan ons dit nie doen nie en die onderwysers trek net hul skouers op en sê 'dis mos die weeskinders'.”



UITDAGINGS

Christine het haar nie deur al die uitdagings laat onderkry nie en besluit net sy is vir haar lewe verantwoordelik en sy moet die beste daarvan maak.

“As weeskind hoor jy baie jy is nie goed genoeg nie. Jy sal dit of daai nie kan doen nie. Ek ís goed genoeg. Ek ís slim genoeg en ek sal suksesvol wees. Ek wil ander weeskinders wys net hulle kan hulself uit hul huidige omstandighede kry en 'n sukses van hul lewe maak. Niemand gaan dit vir hulle doen nie.”

Haar raad aan al die ander weeskinders is om nooit op te hou droom nie, ongeag hul omstandighede.

“Wanneer julle iets wil bereik, kan julle. Julle moet net in julself glo. Glo dat julle enigiets kan doen en dit gáán doen. Ek hoop ek kan ander weeskinders inspireer om uit die boks te dink en te besef die enigste struikelblok is die een in jou eie kop.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!