Duitssprekende Namibiërs ‘tevrede’ met ooreenkoms

Yandi Du Plessis
Die Forum van Duitssprekende Namibiërs het in ’n mediaverklaring van 14 Junie gereageer op die volksmoordooreenkoms wat tussen Namibië en Duitsland bereik is.

Luidens die verklaring verwelkom die bestuurskomitee van die Forum die nuus dat ’n bilaterale ooreenkoms uiteindelik bereik is deur die twee afvaardigingshoofde, die Namibiese diplomaat, dr. Zed Ngavirue, en voormalige Duitse parlementslid, mnr. Ruprecht Polenz, ná die onderhandelingsproses tussen die twee lande.

“Ons voel die pyn en lyding wat verduur moes word onder die gruweldade wat Duitsland nou bereid is om volksmoord te noem, en ons verwelkom die feit dat die land se hoogste ampsdraer, president Frank-Walter Steinmeier, amptelik om verskoning sal vra aan die betrokke gemeenskappe en die Namibiese volk.

“Ons verwelkom ook Duitsland se verbintenis tot die uitbetaling van ’n versoeningsbedrag,” lui die verklaring, wat onderteken is deur mnr. Harald Hecht, die voorsitter van die Forum.

Die Forum sê daar word kennis geneem van die feit dat groepe binne die OvaHerero, OvaMbanderu en Nama-gemeenskappe ontevrede is oor die wyse waarop onderhandelinge plaasgevind het en die bedrag waarop uiteindelik tussen die twee onderhandelingspanne ooreengekom is.

“Sommige van die reaksies en hoe dit verwoord word, is nie aanvaarbaar of opbouend nie. Openlike sowel as bedekte dreigemente teen grondeienaars en mense van Duitse afkoms is veral ’n probleem. Dit kan toekomstige versoeningspogings en ’n vreedsame pad vorentoe benadeel.

“Die Forum herinner die onderskeie ontevrede individue daaraan dat Duitssprekende Namibiërs wel burgers van hierdie land is – gelyk voor die wet en met gelyke regte en verantwoordelikhede.”

Die Forum vertrou die onderhandelingsproses is te goeder trou tussen die twee regerings uitgevoer, met die deelname van verteenwoordigers van die betrokke gemeenskappe, en volgens die brief en die gees van die mosie in die parlement deur wyle mnr. Kuaima Riruako,

“Ons doen dus ’n ernstige beroep op alle Namibiese burgers om nie die proses te gebruik om geweld aan te wakker en sodoende onstabiliteit in ons nasie te veroorsaak nie. Ons glo ons moet na mekaar uitreik, met inagneming van ons gedeelde geskiedenis, en saamwerk aan ’n beter toekoms,” lui die verklaring verder.

Die Forum het voorgeneem om van hulp te wees deur die bevordering van dialoog, in die gees van versoening en soos dit in die Namibiese Grondwet daargestel word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!