‘Dunja betaal hoogste prys’
Die ouers van ’n matriekleerling wat in Oktober in ’n motorongeluk gesterf het, het hul harte oopgemaak oor hul “hartskind” se drome vir haar lewe wat nog voor haar gelê het.
Henriette Lamprecht - Hy sou graag by skole wou omgaan en met kinders praat oor ’n besluit en ''n oomblik wat jou lewe binne ’n oogwink kan verander.
“Jou hele lewe lê voor jou en jy kan dit in een sekonde opneuk.”
Jochen von Dewitz en sy vrou, Erna, het in die vroeë oggendure van 15 Oktober die oproep gekry wat enige ouer vrees. Hul oudste dogter, Dunja (18), het in ’n motorongeluk in Windhoek gesterf. Haar vriend, RJ Visser, is ernstig beseer en die bestuurder van die motor was skoonveld.
Hul dogter “moes die hoogste prys betaal vir “arrogansie met drank en spoed”.
“Kinders misgis hulle met die spoed en krag van vandag se motors.”
Volgens Jochen en Erna het hul dogter twee drome vir haar toekoms gehad.
Die eerste en grootste was om op die familieplaas naby Okahandja te gaan boer. In die laaste weke voor haar dood het sy in volle detail haar huis ontwerp wat sy graag op die berg op die plaas wou bou.
“Sy het groot drome gehad, Namibiese bloed het sterk in haar are gevloei en sy was ‘n kind van die plaas.”
Haar tweede droom was om die wêreld te beleef, ander kulture en nasies te besoek en te ervaar. Dunja het ’n “barmhartige hart” gehad, vertel hulle, en wou ‘n verskil aan kinders oor die wêreld heen maak.
“Dit was ook ons droom vir haar. Ons wou hê sy moes eers haar vlerke sprei, haar horisonne verbreed en ervaring van die lewe opdoen deur te reis.”
In haar kort lewe saam met haar gesin was Dunja al stoksielalleen op die ouderdom van 11 jaar Duitsland toe. Sy het alleen gevlieg en die dorpie Hagen onder die toesig van oom Rene en tante Kristina gaan verken, vertel Jochen en Erna trots.
Sy was ook al in Thailand en Maleisië waar sy heel avontuurlustig aan vreemde kosse gesmul het, markte en strate platgeloop het, tussen haaie gaan snorkel het en haar verkyk het aan die realiteit van die nagwêreld van Oosterse lande.
“Sy wou graag volgende jaar na oom Uwe toe wat in Amerika bly.”
Dunja was hul sonskynkind, ’n “hartskind, ’n sielskind”.
Sy kon ewe uitbundig lag en verspot wees, net om saam te huil oor die skurwe hande en stukkende skoene van ‘n boemelaar.
“Haar sagte hart het haar dikwels daartoe gelei om ‘n sjokolade vir ‘n bedelaar in die winkeltrollie te smokkel.
“Ander kinders se pyn het haar diep geraak en sy kon lang gesprekke voer oor die verhoudings wat ander ouers en hulle kinders het.”
Vir Dunja was haar matriekafskeid “net so opwindend soos ‘n rit op die plaas saam met vriende en hul motorfietse”.
“Haar ongelooflike passie vir die lewe was aansteeklik en sy het van die kleinste kind tot die oudste persoon se hart in ‘n oogwink gesteel.”
Vir hulle as ouers was dit baie traumaties om hul kind se roudiens op haar pappa se 50ste verjaardag te hou, “maar ons het gevoel sy moet rus”. Sy is veras en is “by hulle”.
Die gesin, familie en naby vriende beplan om in November ’n spesiale afskeid vir haar op die plaas te hou.
“Ons gaan vir haar grassade strooi op die groot berg wat haar gunstelingplek op die plaas is. Haar ouma Margarete rus ook hier.”
Jochen was by ’n konferensie in Japan toe hy die skoknuus oor sy dogter kry. Hy het die Woensdag (12 Oktober) uit Namibië vertrek en die Vrydag geland, gaan slaap en die oggend gaan ontbyt eet.
“Japan is sewe ure voor ons. Ek het gaan eet en toe ek terugkom in die kamer, het ek gesien Erna het ’n boodskap gestuur ‘bel my nou’. Ek het onmiddellik geweet iets is fout.”
Met die eerste paar oproepe kon hy nie deurkom nie. Toe het die oproep van ’n werknemer van die Lady Pohamba privat hospitaal se private selfoon gekom wat enige ouer se nagmerrie is.
Air Namibia se besturende direkteur en personeel het uit hul pad gegaan om reëlings te tref om Jochen so spoedig moontlik met sy gesin te verenig.
“Ek was letterlik aan die anderkant van die wêreld; dit het gevoel asof ek oor die see wil swem.”
Volgens Jochen en Erna kry hulle as gesin geweldige ondersteuning van familie, vriende, kollegas en ongelooflik baie vreemdelinge.
“Ons is uiters dankbaar vir elke SMS, boodskappie, gedagte en veral gebede. Dit is vir ons ‘n ongelooflike moeilike tyd omdat ons nie kan afsluit met die gebeurtenis nie. Geweldig baie mense reik uit na ons toe en wil help.
Koester en geniet jou kind, vra Jochen en Erna.
“Hulle kan in ‘n oogwink uit jou lewe geruk word.”
Intussen het die woordvoerder van die Namibiese polisie gesê tot op hede is “geen persoon bevestig as die bestuurder van die motor tydens die ongeluk nie”.
Die eienaar van die voertuig is aan die polisie bekend, maar volgens insp. Slogan Matheus was hy glo “te dronk om te onthou aan wie hy sy motorsleutels oorhandig het”.
Matheus het egter gesê die polisieondersoek duur voort en alle inligting en wenke word opgevolg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie