Dunja se saak wéér uitgestel
Howe
Henriette Lamprecht – Die saak waarin ’n motorbestuurder van strafbare manslag aangekla word ná die ongeluk wat die lewe van ’n matriekmeisie geëis het, is vir die soveelste keer uitgestel.
Die 18-jarige Dunja von Dewitz is in die vroeë oggendure van 15 Oktober 2016 in ’n motorongeluk in Windhoek dood. Haar vriend, RJ Visser, is ernstig in die ongeluk beseer.
Vier jaar later sloer die saak steeds, wat op 12 November in die Windhoek- streekhof in Katutura sou begin. Mnr. Jacobus van Schalkwyk word van strafbare manslag aangekla en dat hy “onregmatig en deur nalatigheid” die dood van Dunja veroorsaak het. Bykomend tot die eerste klag is Van Schalkwyk volgens die padverkeerswet van roekelose of nalatige bestuur aangekla.
Die jongste uitstel is weens Van Schalkwyk se prokureur, mnr. Jan Wessels, wat weens mediese redes nie op die vasgestelde datums beskikbaar is nie.
Buiten vir 13 en 14 November is 21 en 22 Januarie aanstaande jaar ook vir die saak vasgestel. Intussen het RJ se ma, me. Alieta Wiese, by navraag gesê elke uitstel eis ’n emosionele tol.
“Dit is baie sleg. Ek sien wat dit elke keer aan die kinders (getuies) doen. Almal wil net graag aangaan met hul lewens en afsluiting kry, dis so ’n emosionele ding,” het sy gesê.
RJ het permanente skade in die ongeluk opgedoen en het voortdurend opvolgbehandeling nodig. Die egpaar kon ook nie van die Padongelukkefonds (MVAF) eis nie omdat die saak nie afgehandel was nie.
Die huidige uitstel is die jongste terugslag nadat die saak in ’n stadium van die hofrol verwyder is omdat die dossier nie volledig was nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie