Durandt klaar met beroepsafrigting in SA

Andrew Poolman
Heinz Schenk


Suid-Afrikaanse boks is een van sy bekendste boksafrigters kwyt weens die nalatenskap van ’n korrupte beampte.
Nick Durandt, ’n breier van onder andere 38 wêreldkampioene, het bevestig die “rampspoedige” ampstermyn van Moffat Qithi, gewese uitvoerende hoof van Boks Suid-Afrika (BSA), en die gevolge daarvan het hom oortuig daar is nie meer ’n toekoms vir hom as beroepsafrigter in Suid-Afrika nie.
“Ek wil eintlik nie meer klippe na ander individue gooi nie, maar boks in Suid-Afrika word gebrekkig bestuur,” het hy in sy gimnasium in Melrose, Johannesburg, gesê.
“Suid-Afrikaanse boks is in ’n chaos gedompel omdat een man nie hond haaraf kon maak van sy pligte nie. Jy kan nie ’n man wat voorheen tronkstraf opgelê is, toevertrou om ’n sportsoort te bestuur nie. Hy het groot skade berokken.”
Qithi, wat in 2011 aangestel is, is verlede jaar afgedank nadat hy in 2013 geskors is weens bewerings van finansiële wanbestuur en “growwe oneerlikheid”.
Hy is uiteindelik skuldig bevind aan elf klagtes, waarvan een was dat hy nie sy misdaadrekord vermeld het nie.
“Onder sy leiding is BSA die reg vergun om datums vir televisie-uitsendings aan promotors toe te ken,” het Durandt gesê.
“In die geskiedenis van wêreldboks is nog nooit só ’n stelsel in werking gestel nie. Promotors onderhandel regstreeks met uitsaaiers oor gevegte. Dit is albei partye se volle reg om op dié wyse handel te dryf. Boks is nie bedoel om ’n tenderproses te word nie. Promotors moet nie bakhand voor BSA en die regering gaan staan en vra vir ’n datum om ’n geveg uitgesaai te kry nie.”
BSA se besluit om uitsendings tussen al nege provinsies af te wissel het druk op die SABC geplaas, wat nie oor die nodige geld beskik het nie.
Van 2010 tot Mei 2015 was daar geen regstreekse uitsendings deur die openbare uitsaaier nie, wat plaaslike gevegte van broodnodige blootstelling ontneem het.
“Borge is huiwerig om betrokke te raak. Ons bekende boksers is deesdae in een groot geveg per jaar betrokke. Dit is heeltemal te min,” het Durandt gesê.
Die 52-jarige afrigter glo ook beperkte fondse beïnvloed die lojaliteit van boksers.
“Lojaliteit bestaan nie meer nie. Boksers verander in ’n oogwink van promotors en afrigters, want hulle moet ’n bestaan voer. Ek moes al derdehands hoor hoe van my boksers nie meer deur my afgerig word nie, omdat hulle bloot besluit het om by ’n ander afrigter te gaan probeer geld maak,” het hy gesê.
“Dit is werklik ’n tragiese stand van sake.”
Hoewel Durandt nie meer professioneel betrokke wil wees nie, hoop hy toekomstige boksers hou moed.
“Ek hoop boksers besef hulle moet aanhou veggees wys. Miskien, eendag, is daar ’n lig aan die einde van die tonnel.”
Durandt sê hy sal voortaan op sy ander besighede konsentreer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer