Duskant drie dekades met die 'Rooi Taal'
Duskant drie dekades met die 'Rooi Taal'

Duskant drie dekades met die 'Rooi Taal'

Dani Booysen
Oor ons land se Namlish word tans gekgeskeer, maar oor vordering met vaardighede in die ampstaal moet daar ook ernstige kommer wees.

In 2018 was voltydse graad 10-leerlinge se nasionale gemiddeld in Engels tweede taal 48,6%, of dan 'n hoë E-simbool. Skaflik? Maar let wel – dit is tweede taal.

Graad 12's op gewone vlak se gemiddeld vir Engels tweede taal was 35%. 'n F.

Iewers is die gaping te groot en is daar, 'n jaar voor Namibië sy 30ste vryheidsverjaardag sal vier, 'n hele klomp skroewe met die Engels los.

Eksamendata wys Erongo, Hardap, ||Kharas, Khomas, Otjozondjupa, Zambezi en selfs Omaheke vaar beter met die Ingils. In graad 12 is die verskille tussen streekgemiddeldes skrikwekkend – teenoor B- en C-simbole vir streke staan daar langs byvoorbeeld die name van Ohangwena 14,5% (ongegradeerd), Kavango-Wes 16,9% (ditto) en Omusati 20,6% ('n G-simbool) aangeteken. Eina!

Hopelik was daar 'n fout in die syfers?

G'n wonder nie onder meer dr. Tjama Tjivikua van Nust het 'n ernstige beklemming om die tersiêre hart.

Namibië sukkel duidelik sy as af om op die rooi perd se rug te kom.

Die ander dag skryf die polisie in 'n nuusvrystelling oor 'n rooftog “two man of optimum height came from the west direction”. Onlangs lees die uwe ook in 'n ampskrywe ons grense is “boarders” . . .

Maar kom ons vat nie gat nie. In ons eie taal maak ons ook maar foute en nuusverklarings en TV-taal is al baie beter as 'n dekade of twee gelede.

Oefening is maar, soos met als, van kardinale belang. Op my liewe moeder was ek baie trots hier ná 1990. As staatsamptenaar was haar Ingils maar krom, maar sy het hom gepraat!

Belangrik: Hierdie is geen betoog dat Afrikaans die ampstaal moet wees nie. Engels was eintlik die enigste keuse en was op 'n manier vir almal 'n groot gelykmaker?

In 2014 het prof. Joseph Diescho in 'n betoog ten gunste van 'n Afrika-ampstaal vir die land gewonder of Otjiherero nie gepas sal wees nie weens die aantal sprekers . . . Langs so 'n gespreksvuurtjie wil Dapperrerige Daniëltjie beslis nie inskuif nie. En hy wonder hoe die res van ons se gemiddeldes sou gelyk het.

Suid van die Gariep is finansminister Tito Mboweni in die pekel by kamerade omdat hy getwiet het Suid-Afrika sal nog spyt wees oor die afskaffing van Afrikaans as voertaal by die Universiteit van Pretoria. Die ANC het leiers daarná gewaarsku om nie uit verskillende monde te praat en die publiek en volgelinge te verwar nie. Klink bekend? Al gaan dit in ons politiek in dié verband oor ander sake.

In ander onlangse nuus oor Afrikaans blom die taal glo opnuut in Patagonië in Argentinië. So, ons hoef allermins te vrees ons taal gaan hier verdwyn – hoewel daar kommer moet wees oor die steeds kleiner getal graad 12-leerlinge wat Afrikaans as eerste taal neem. In 2018 was dié groepie 169 skoliere op hoërvlak teenoor 469 in 2001. 'n Afname van 64%.

Op gewone vlak was daar in Afrikaans eerste taal verlede jaar 227 kandidate. Beide groepe is gesamentlik dus kleiner as 2001 se hoërvlakgroep.

Of daar werklik in Namibië en Suid-Afrika in nie-Afrikaanse kringe verskillende opvattings en gevoelens oor die taal heers, is 'n aanname wat dalk ook prakties met navorsing getoets kan word.

Teenoor die depolitisering van Afrikaans staan ongelukkig ook diegene wat die taal met verskeie agendas opnuut verpolitiseer.

Vir hulle moet mens immer katvoet wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!