Duur kos: SA nog nie oor die bult
Duur kos: SA nog nie oor die bult

Duur kos: SA nog nie oor die bult

Melkbedryf in benarde posisie
Jo-Mare Duddy Booysen
Vida Booysen - Hoewel beter weers­omstandighede dalk verligting kan bring vir Suid-Afrikaanse verbruikers wat duur vir kos betaal, is die land nog nie oor die bult nie.
In Junie was plaas­like voedselinflasie 11,2% op­ ’n jaargrondslag, wat steeds skerper as Mei se inflasie van 10,8% was.
Dit is veral komponente soos suiker, vrugte, groente, vleis en suiwelprodukte, wat byna die helfte van die inflasie-voedselmandjie beslaan, wat steeds duur is, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.
“Ons vooruitskouing is dat veral suiwelpryse steeds tot ten minste die vierde kwartaal van vanjaar hoër sal bly, want dit is wanneer weiveld eers begin herstel indien ons goeie somerreënval kry.”
Weervoorspellers verwag hierdie seisoen ’n natter La Niña-weerverskynsel en daar is hoop dat die laaste paar seisoene se droogte in veral die westelike dele van die land dalk gebreek sal word.
Vleispryse kan die volgende paar maande steeds hoog bly, voorspel die Rooivleisprodusente-organisasie in sy jongste nuusbrief.
“Plaaslik sal pryse na verwagting styg namate die temperatuur warmer word en slagtings afneem.”
Die verbruikersprys van vars melk het in die 24 maande tot Maart vanjaar met 12,8% gestyg en die botterprys het met 23,7% toegeneem, lui die melkverwerkers-organisasie, Sampro, se Mei-verslag oor markneigings.
Die meeste ander verwerkte suiwelprodukte se pryse het met minder as die inflasiekoers gestyg.
Langlewemelk was op sy beurt in Maart vanjaar gemiddeld 5,3% goedkoper as ’n jaar gelede.
Die Suid-Afrikaanse melkbedryf is tans in ’n benarde posisie weens die wanbalans tussen die pryse van melk en voer, asook die groot hoeveelhede langlewemelk wat verlede jaar uit onder meer Pole ingevoer is en wat die verbruik van vars melk afgedruk het.
Seisoenale faktore speel ook dié tyd van die jaar ’n rol om melkproduksie duur te maak.
Koeie produseer natuurlikerwys meer melk nadat hulle gekalf het en dis gewoonlik in die lente en somer in Suid-Afrika. Dit word gevolg deur ’n “droë” tydperk van sowat 60 dae voordat die koei weer kan kalf.
Suiwelboere moet soms bykomende wintervoer gee om melkproduksie te stimuleer.
“Dit lei tot hoër produksiekoste van melk in die winter en die bedryf betaal dikwels ’n premie vir vars melk in dié tyd,” sê dr. Chris Lerm, uitvoerende hoof van handelsname en bemarking van Clover.
Groentepryse is reeds aan die daal, toon Absa se jongste Agritrends-nuusbrief wat einde Julie verskyn het.
“Die laaste paar weke het al die groentepryse behalwe dié van kool gedaal. Die mark kan verwag dat groentevolumes die volgende paar weke sal toeneem en pryse gevolglik sal afneem,” lui die verslag.
Die voedselsegment vir gemaalde grane was die laaste paar maande weens die droogte en gevolglike skaarste ’n groot drywer van voedselinflasie.
Dié komponent van die inflasiemandjie het in Junie op ’n maandgrondslag met 1,2% begin daal.
“Die afname kan egter dalk van korte duur wees omdat binnelandse voorraad steeds knap is en dit die graanpryse vanjaar relatief hoog kan hou,” sê Sihlobo. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!