Duurder olie kan SA motoriste se sak ruk
Duurder olie kan SA motoriste se sak ruk

Duurder olie kan SA motoriste se sak ruk

Slegte nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste is dat oliepryse 2020 styg-styg begin het nadat dit in 2019 die meeste in drie jaar gestyg het.

Spanning in die Midde-Ooste en tekens dat Amerikaanse olievoorrade aan die daal is, het pryse Donderdagoggend met tot 0,9% opgedruk.

Die 50-dae- bewegende gemiddelde prys van West Texas Intermediate het tot bo die 200-dae- bewegende gemiddelde gestyg, ’n tegniese aanwyser wat op ’n verdere styging dui.

Olie het in 2019 met 23% gestyg – die skerpste styging sedert 2016 – ondersteun deur die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy bondgenote se ooreenkoms om produksie selfs verder te verlaag.

Die deurbraak in onderhandelinge oor invoertariewe tussen Amerika en China word ook as goeie nuus vir die olieprys beskou omdat dit die wêreldekonomie kan ondersteun – en dus die vraag na brandstof kan verhoog.

Pres. Donald Trump het onlangs aangedui hy gaan op 15 Januarie die eerste fase van ’n handelsooreenkoms onderteken en gaan later in 2020 Beijing toe vir onderhandelinge oor die tweede fase.

Intussen is spanning in Irak aan die styg. Iranse rebellegroepe het Donderdag vir die tweede dag in Bagdad, Irak, toegesak op die Amerikaanse ambassade om te betoog teen die dood van 25 mense in Amerikaanse lugaanvalle.

Die styging in oliepryse kan in Februarie veral ’n groot impak op Suid-Afrikaanse dieselpryse hê, volgens vroeë syfers van die Sentrale Energiefonds.

Die sterker rand van die afgelope paar dae buffer in dié stadium die petrolprys, maar is nie genoeg om die skerp styging in internasionale dieselpryse teen te werk nie.

Daar is tans ’n oorverhaling (dus ’n daling indien pryse vir Februarie vandag vasgestel sou word) van nagenoeg 21c per liter op die prys van 95-oktaan-petrol en van 8c per liter vir 93-oktaan. Die onderverhaling (dus styging) op diesel van alle grade beloop tans 20c per liter.

Dis egter nog net die eerste week van die oorsigtyd wat vir Februarie se brandstofpryse gebruik word. Die oorsigtyd is dié maand vyf weke en duur tot 31 Januarie. Heelwat kan dus nog verander aan die oor- en onderverhalings.

Die rand het op 31 Desember vir die eerste keer in maande tot onder R14 per dollar gedaal, maar kon nie daarin slaag om op dié vlak te sluit nie – dit het op R14 gesluit.

Donderdag om 11:00 het die rand R13,96 per dollar gekos. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!