Duurder wyn is silwer randjie vir wynbedryf
Volgens ’n kenner het die skerp verhoging in wynpryse tot ’n verhoging in inkomste gelei en wynprodusente se gemiddelde winsgewendheid verbeter.
Nellie Brand-Jonker – Die wynbedryf het uiteindelik rede om meer optimisties te voel nadat wynpryse wat aan produsente betaal is verlede jaar met dubbelsyfers gestyg het.
Christo Conradie, bestuurder van wynkelders in die bedryfsliggaam VinPro, sê die skerp verhoging in wynpryse het tot ’n verhoging in inkomste gelei en wynprodusente se gemiddelde winsgewendheid verbeter. Hy het dit as ’n silwer randjie vir die wynbedryf beskryf omdat wynboere se winsgewendheid al jare onder groot druk is omdat wynpryse al meer as ’n dekade minder as produksiekoste styg.
Conradie het gepraat op Vinpro se jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad.
’n Jaar gelede is voorspel dat wynpryse dalk skerper kan styg weens die droogte in die Wes-Kaap wat met ’n wêreldwye wyntekort gepaard gegaan het.
Die grootmaatpryse wat produsente verlede jaar vir wit- en rooiwyn gekry het, het skerp met meer as 20% gestyg, vergeleke met die 4% wat hulle gemiddeld die vorige 12 jaar gekry het.
Vinpro verwag dat die pryse vir produsente vanjaar weer met dubbelsyfers gaan styg.
Die probleem is dat dit lyk of die skerp prysstyging verlede jaar iewers geabsorbeer is, want op die rakke het wynpryse gemiddeld met 7% gestyg. Dit kan beteken as wynpryse wat produsente vanjaar kry weer so baie styg, hoër prysstygings aan verbruikers deurgegee gaan word.
Volgens Mark Norrish, hoofbestuurder van wyne by Ultra Liquors, het die finansiële druk op verbruikers in 2018 reeds veroorsaak dat mense na goedkoper kategorieë drank oorgeskakel het of goedkoper produkte in kategorieë gekoop het.
Hy meen die hoër wynpryse het verbruikers reeds drasties beïnvloed en dat veral dié wat wyn van R30 tot R100 per bottel koop na bier oorgeskakel het.
Conradie sê hoewel die volle jaar se syfers nog nie gekry is nie, lyk dit of boere se netto boerderyinkomste amper verdubbel het. Sowat 80% van wynprodusente se netto boerderyinkomste is egter steeds minder as wat volhoubaar is.
Die verhoging in netto boerderyinkomste hou dalk ook daarmee verband dat boere minder nuwe wingerde aangeplant het.
Tans is 50% van wingerde ouer as 16 jaar. Volgens Conradie moet die wingerde in die komende tien jaar vervang word en dit sal ongeveer R10 miljard kos. “Dit is werklik kommerwekkend. Kontantvloei is nodig om nuwe wingerde te plant.”
Die voorraad wat ná die droogte in kelders beskikbaar is, is vergeleke met verkope die laagste in 15 jaar, sê Conradie.
Die kleiner voorraad het verlede jaar veroorsaak dat uitvoere gedaal het omdat minder wyn beskikbaar was om uit te voer. Die randwaarde van die uitvoere is egter ook hoër omdat die wêreldwye daling in voorraad daartoe gelei dat beter pryse oorsee gekry is.
Die vraag is of die pryse vanjaar volgehou gaan word omdat oeste oorsee herstel het, sê hy.
Suid-Afrika kry oorsee steeds van die laagste pryse van alle wynlande. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie