Dwaalkoeu00ebl vertraag hofsaak
Dwaalkoeu00ebl vertraag hofsaak

Dwaalkoeël vertraag hofsaak

’n Verslag oor die stand van sake is verlede week by die hooggeregshof in Windhoek ingedien.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – ’n Onregmatige hofgeding van N$3 miljoen teen die polisie kan slegs voortgaan sodra die koeël uit die bobeen van die slagoffer se ma verwyder en vir ballistiese toetse gestuur is.

Die hofgeding spruit uit die dood van 'n kind wat op Valentynsdag verlede jaar noodlottig deur 'n dwaalkoeël getref is.

Amper ’n jaar nadat haar seun gesterf het, sit dieselfde koeël wat haar seun se dood veroorsaak het steeds in die bobeen van me. Siegfriede Kahimunu vas.

’n Polisiebeampte het glo ’n waarskuwingskoot afgevuur om rondloperhonde te verjaag.

Volgens die besonderhede van haar eis wat in Julie verlede jaar ingedien is, beweer Kahimunu dat die koeël deur ‘’n sekere sersant Laury Haimbodi’ in die vroeë oggendure van 14 Februarie in die Freedom Square- informele nedersetting afgevuur is. Die familie was besig om in hul sinkhuis te slaap.

Die koeël het vir haar en haar ouer seun Rendy Kahimunu beseer en vir Muhupua Kahimunu (4) noodlottig getref.

’n Tweejarige meisie het volgens die hofdokumente niks oorgekom nie.

'n Verslag oor die stand van sake is verlede week deur prokureurs van Kangueehi & Kavendjii Inc by die hooggeregshof in Windhoek ingedien waarin hulle vra dat die saak tot Maart uitgestel word sodat dokters die koeël kan verwyder en toets.

“Die beskuldigdes is nie in staat om aanspreeklikheid te aanvaar of te weier nie, wat op hul beurt sal bepaal of die saak op hierdie stadium afgehandel kan word, aangesien die ondersoek onvolledig was en die ballistiese verslag uitstaande is. Dit sal bepaal of die betrokke projektiel uit [Haimbondi] se vuurwapen afgevuur is.”

Prokureur Tjingairi Kaurivi het die hoërhof regter Nate Ndauendapo in kennis gestel dat die prosedure by die Katutura-staatshospitaal gedoen sal word. Die koeël sal na die Nasionale Forensiese Wetenskapsinstituut vir ontleding gestuur word.

Kaurivi het verduidelik dat dit aan die lig gekom het dat die koeël steeds in haar bobeen vassit toe navrae oor die vermiste ballistiese verslag gedoen is.

Hy het egter gesê dit is onduidelik wanneer die finale verslag beskikbaar sal wees aangesien “sommige verslae so lank as twee jaar neem om af te handel. Nietemin sal pogings aangewend word om die verslag binne twee maande te bekom.”

Die vier beskuldigdes wat in die saak gelys is, sluit die ministerie van veiligheid en sekuriteit, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, die regering van Namibië en Haimbodi in.

Kahimunu het die hof ingelig dat die N$3 miljoen-skadevergoeding vir die lyding is wat sy ervaar het in die vorm van emosioneele stres, trauma en beserings as gevolg van die voorval en die verlies van haar seun.

Sy het ook die hof gevra om ’n addisionele N$2 300 vir die begrafnisonkostes by te sit.

Dwaalkoeëls

Dwaalkoeëls veroorsaak dat daar op ’n gereelde basis klagtes teen die polisie aanhangig gemaak word.

In Junie 2019 is ’n voormalige bestuurder van ’n Iveco-bus deur ’n dwaalkoeël getref. Die polisiebeampte het sy pistool afgevuur terwyl hy ’n verdagte agtervolg het. Skadevergoeding van N$150 000 is aan die bestuurder toegeken nadat hy die polisie vir meer as N$1 miljoen gedagvaar het.

Mnr. Ndilyowike Haishonga is in September 2016 per ongeluk geskiet. Die koeël in steeds in sy liggaam omdat dit volgens die doktor te naby aan sy hart is om veilig te verwyder.

Me. Lavinia Kagola (26), ’n ma van twee, is in September 2018 oorlede toe sy deur ‘n dwaalkoeël getref is. Die skoot is afgevuur in die Kilimanjaro- informele nedersetting in Katutura toe ’n geveg tussen polisiebeamptes en die eienaar van ’n sjebeen uitgebreek het.

Ook in 2018 is mnr. Johannes Muyingo, terwyl hy sy nege maande oue baba vasgehou het, deur ’n dwaalkoeël doodgeskiet wat ’n polisiebeampte afgevuur het toe hy ’n verdagte agtervolg het. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer