Dwarswind lei tot vliegongeluk

Twee vliegongelukke het ’n week uitmekaar op plase in die noordweste van die land plaasgevind.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



’n Leerlingvlieënier het Saterdagmiddag ’n noue ontkoming gehad toe hy ’n landelike navigasie-oefening gedoen het en sy deurlooplanding by ’n vliegveld op ’n plaas naby Omaruru skeefgeloop het.

Die 44-jarige vlieënier het rugbeserings en ’n wond aan sy kop opgedoen toe die Piper Cherokee 180 met opstyging deur ’n ligte dwarswind van die aanloopbaan gedruk is en die bome langs die vliegveld getref het. Die vliegtuig se registrasienommer is V5-KAI.

Dié opleidingsvliegtuig van die Swakopmund-vliegskool was al so raps meer as 3 m (10 voet) bo die grond toe dit gebeur het, sê mnr. Oskar Plichta, ondersoeker by die direktoraat vir vliegtuigongeluk- en voorvalondersoeke in die ministerie van werke en vervoer.

Hy het gister die voorval aan Republikein bevestig. Die ongeluk het Saterdag om 12:20 by die Roidina Safari Lodge naby Omaruru plaasgevind.

Dit blyk die leerlingvlieënier, wat op die vlugplan as mnr. C. Creasy aangedui word, moes as deel van sy opleiding by die Swakopmund-vliegskool ’n solo- landelike navigasievlug onderneem. Dit het behels dat hy op Swakopmund opstyg en na die vliegveld op Roidina vlieg waar hy ’n deurlooplanding (wat beteken hy stryk neer en styg dadelik weer op) moes doen. Vandaar sou hy na Uis vlieg waar hy weer dieselfde oefening sou herhaal voordat hy na Swakopmund terugkeer.

Plichta sê dit is ’n navigasie-oefening wat leerlingvlieëniers gewoonlik doen wanneer hulle 30 vliegure agter die blad het.

Plichta sê die vliegtuig is erg beskadig toe dit die bome langs die vliegveld getref het. Die deur kon nie oopmaak nie en Creasy moes deur ’n stukkende ruit uitklim. “Dit is ’n bestiering dat die vliegtuig nie aan die brand geraak het nie,” sê hy.

Dit blyk uit die polisie se misdaadverslag Creasy is ’n Suid-Afrikaner wat in Namibië woon en werk.

Mnr. Francois Kotze, die plaaseienaar, was gou op die toneel en het hom na die staatshospitaal op Omaruru geneem waar hy vir die wond aan sy kop behandel is. X-strale is ook van sy rug geneem voordat hy per ambulans na Mediclinic op Swakopmund oorgeplaas is.

’n Woordvoerder by die Swakopmund-vliegskool wou nie gister enige vrae beantwoord voor die ondersoek nie afgehandel is nie.

HELI VAL OP PLAAS KAROSS

Dié voorval volg ’n week nadat mnr. Johan Lombaard van Golden Game by Mariental se Robinson R44-helikopter op die plaas Kaross naby Kamanjab geval het.

Volgens ’n ingeligte bron het hy op Saterdag 28 Augustus ’n wildtelling op dié plaas van die Britse miljardêr, mnr. Harvey Boulter, gedoen toe die helikopter vermoedelik enjinprobleme ervaar het. Lombaard is nie beseer nie.

Hy kon gister ondanks verskeie pogings nie op sy selfoon bereik word nie.

Plichta het die voorval bevestig en gesê dit word ondersoek, maar wou nie nader inligting verstryk nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!