Dwelmvonds ruk kus

Die afgelope naweek is ’n allemintige 412 kg se dwelms op Walvisbaai onderskep.
Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai – ’n Bekende gesin van Narraville op Walvisbaai word glo verbind met ’n reusedwelmvonds die afgelope naweek.

Die polisie in die Erongostreek het egter kwaai uitgevaar teen die verspreiding van die name van die verdagtes en inligting wat in ’n vertroulike dokument vervat is.

Adj.komm. Erastus Iikuyu, die koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, het bevestig twee Namibiese mans – een 62 jaar oud en die ander 32 – is agter tralies ná die beslaglegging van vermoedelik kokaïen ter waarde van N$206 miljoen op die hawedorp Vrydagmiddag.

Die operasie is gesamentlik deur die Namibiese polisie en doeanebeamptes van stapel gestuur.

Iikuyu sê die verdagtes sal na verwagting vandag voor die landdroshof op Walvisbaai gedaag word.

Die mans word daarvan verdink dat hulle met gewoontevormende dwelms handel dryf.

Iikuyu het voorts gesê doeanedokumentasie dui aan die vrag met die beweerde dwelmbesending het vroeër vandeesmaand via Suid-Afrika uit Brasilië by die hawe op Walvisbaai aangekom.

Toe die verdagtes Vrydag omstreeks 12:00 hul opwagting by die hawe maak, is die goedere in hul teenwoordigheid oopgemaak.

Die senior polisiebeampte het sy teenkanting uitgespreek oor ’n vertroulike verslag wat via WhatsApp die ronde doen. In dié boodskap word die besonderhede van die ondersoek en die name van die verdagtes verstrek. “Dié interne verslag was nie vir die media bedoel nie en kan ons ondersoek in gedrang bring,” het hy gesê.

Iikuyu het gewaarsku die verdagtes se name word weerhou totdat hulle in ’n hof verskyn het. “Die mans wat aangekeer is, is verdagtes. Die moontlikheid bestaan dat hulle vrygelaat kan word en hang af van laboratoriumtoetse.”Hy het benadruk dié toetse moet nog uitgevoer word om te bevestig of die goedere waarop beslag gelê is, wel kokaïen is.

’n Bron het aan Republikein se susterskoerant Erongo gesê die goedere is in 480 fotostaatpapierdose versteek wat deur skandeerders opgemerk is.’n Ander bron het gesê die owerhede het opgetree nadat hulle ’n wenk oor die verbode besending ontvang het.

Hoofinspekteur Kauna Shikwambi, ’n polisiewoordvoerder, het oor die naweek bevestig die verdagtes is van Narraville.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer