‘E-posse nie genoeg om te vervolg’
Die grootste probleem is wie dié klagte gaan ondersoek en wie sal seker maak dit word regverdig verhoor.
Leanne George - Die #GuptaLeaks-e-posse dui op ’n hele rits misdade wat die magtigste mense in die land vir baie jare agter tralies kan laat beland indien dit bewys kan word.
Regskenners maan egter dat hoewel die e-posse toon ongerymdhede het plaasgevind, is dié e-posse opsigself nie genoeg om die Guptas en hul vriend pres. Jacob Zuma summier hof toe te sleep en vir verskeie misdrywe te vervolg nie.
Prof. Koos Malan van die departement publieke reg aan die Universiteit van Pretoria, Lawson Naidoo van die grondwetwaghond Casac en Wessie Wessels, ’n senior prokureur, is dit egter eens dat die inhoud van dié e-posse wel ’n genoegsame grondslag is om strafregtelike klagte by die polisie in te dien.
Die inhoud kan die polisie en nasionale vervolgingsgesag noop om ondersoek in te stel na moontlike oortredings ingevolge onder meer die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA), die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, die Maatskappywet, die Wet op Belastingadministrasie asook die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica). Dis bo en behalwe gemeenregtelike misdade soos bedrog.
Maar volgens al drie kenners is die grootste probleem wie dié klagte gaan ondersoek en wie sal seker maak dit word regverdig verhoor.
Sedert City Press, Rapport en Sunday Times verlede Sondag die inhoud van ’n reeks e-posse onthul het wat blykbaar tussen die Guptas en hul vennote gestuur is, het die een skokonthulling op die ander gevolg.
Die nuuswebwerf Daily Maverick se nuwe ondersoekeenheid Scorpio en amaBhungane het onder meer ’n kontrak gepubliseer waaruit dit blyk die Guptas en hul vennote het sowat R5,3 miljard wins gemaak uit Transnet se lokomotief-kontrak. Die Guptas het glo R10 miljoen vir elke R50 miljoen-lokomotief gekry.
Geldvloei
Om dít in ’n hof te bewys, moet ’n mens steeds kan bewys geld is van een rekening na ’n ander oorgeplaas, sê Naidoo.
Hoe toelaatbaar die e-posse as getuienis in ’n hof sal wees, hang af van verskeie faktore, onder meer hoe dit bekom is, sê Malan.
Volgens hom is dit moontlik ’n “mode-reaksie” van hooggeplaastes om te sê dat jy onregverdig verhoor gaan word indien moontlik inkriminerende inligting aan die publiek gelek word.
Naidoo sê hy is nie té bekommerd daaroor nie – wel oor wie dit suksesvol sal ondersoek. Hy sê om ’n strafregtelike saak suksesvol te vervolg moet daar meer bewyse as net die e-posse wees.
“Dit (die e-posse) kan die grondslag vorm om wetstoepassers te vra om die bewerings te ondersoek, maar wat presies gaan die Valke nou doen?”
Die DA het verlede week klagte van hoogverraad en korrupsie ingedien teen onder meer Zuma, die Guptas en drie ministers ingedien en ook korrupsieklagte teen Anoj Singh, Transnet se voormalige finansiële hoof, wat tans die ooreenkomstige pos by Eskom beklee.
Gert van der Merwe, die Guptas se prokureur, sê sy kliënte het die e-posse nog nie bekyk nie en gaan daarom nie kommentaar lewer nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie