Eagles begin klim berg na T20 Wu00eareldbeker
Eagles begin klim berg na T20 Wu00eareldbeker

Eagles begin klim berg na T20 Wêreldbeker

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Krieket Namibië het die Eagles-groep bekend gemaak wat dié week na Botswana vertrek vir deelname aan die T20 Wêreldbeker kwalifiserende Afrika groep C-toernooi wat komende Sondag begin en tot 4 November duur.

Die toernooi is die eerste mylpaal op die uitdagende pad om tot die T20 Wêreldbeker te vorder wat in 2020 in Australië gespeel word.

Die Afrika-streek is in drie substreke verdeel, naamlik Wes-Afrika (groep A), Sentraal-Afrika (groep B) en Suidelike Afrika (groep C).

Namibië – ten spyte van die onlangse terugslag van sy onttrekking uit Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie – behoort verreweg te sterk vir Lesotho, Mosambiek, St. Helena, Malawi, Swaziland en Botswana te wees.

Twee spanne uit elke substreek sal deurdring tot die kontinentale eindronde, van waar opnuut net twee Afrika-lande met assosiaatstatus vir die volgende ronde van uitdunne sal kwalifiseer.

Laasgenoemde geleentheid lê in November 2019 voor en sal agt kwalifiseerders van Afrika, Asië, die Amerikas, Europa en die Oos-Asië/Pasifiese streek insluit.

Nog ses spanne wat in die vorige T20 Wêreldbeker in 2016 deelgeneem het (Hongkong, Ierland, Oman, Nederland, Skotland, Zimbabwe) sal in die eindronde van kwalifisering betrokke wees, waar net die top-ses die paal sal haal om in 2020 in Australië te gaan aanmeld.

Die Namibiese span begin speel komende Sondag met twee wedstryde – eers Swaziland en daarna Malawi.

Op Maandag 29 Oktober wag Mosambiek en ná twee rusdae sal die Eagles teen Lesotho (1 November), St. Helena (2 November) en Botswana (3 November) te staan kom.

Kaptein Jan Frylinck is dié seisoen aan die stuur van 'n jong spelersgroep, met Stephen Baard een van die afwesiges nadat hy reeds na Nieu-Seeland vertrek het om daar klubkrieket te gaan speel.

Ná Wessel Myburgh se lopies in klubkrieket kry die 28-jarige aanvangskolwer van Samsung FNB Wanderers weer 'n geleentheid om te wys dat hy hom ook op 'n hoër vlak kan tuis maak.

Die linkshandige kolwer Nicol Loftie-Eaton, skoolseun van Windhoek Affies, is op 18-jarige leeftyd die jongste spanlid.

Die bouler Mika Mutumbe en die gesoute veelsydige speler Pikky ya France bevind hulle ook weer in die nasionale opset en sal graag hul plekke met goeie vertonings wil vestig.

Die Namibiese spelersgroep is: Lohandre Louwrens, Michiel du Preez, Jan Frylinck (kaptein), Zane Green (paaltjiewagter), Bernard Scholtz, Colin Peake, Mika Mutumbe, Tangeni Lungameni, Niko Davin, Christopher Coombe, Pikky Ya France, Wessel Myburgh, Zhivago Groenewald, Nicol Loftie-Eaton.

Die afrigter is Dayanand (Dee) Thakur, met Gareth Cloete as hulpafrigter en spanbestuurder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!