Eagles takel VSA-span met momentum

Die eerste van Namibië se vier eendagwedstryde in Florida word vandag gespeel.
Andrew Poolman
Andrew Poolman

Meestal sonnig, met net ’n 20 persent kans vir reën, lugvogtigheid van 61% en ’n maksimum temperatuur van 33 grade Celsius.

Só lui die weervooruitsig vir Lauderhill in Florida, waar die Namibiese krieketspan vandag in ’n eendagwedstryd teen die Verenigde State van Amerika te staan kom.

Kaptein Gerhard Erasmus en sy Eagles-span speel in die komende dae twee keer teen die VSA en twee keer teen Papoea-Nieu-Guinee in ’n driehoekige mini-toernooi in die Wêreldbeker Liga Twee.

Reënweer het reeds ’n invloed gehad op die eerste wedstryd van die mini-toernooi in Florida, waar die VSA Vrydag ’n naelskraapse oorwinning teen PNG behaal het.

Die VSA het van ’n swak begin herstel om 251 in 50 boulbeurte op te stel, die hoogste kolftotaal sover in die kompetisie.

Verskeie onderbrekings weens reën het meegebring dat Papoea-Nieu-Guinee se teiken tot 165 in 23 boulbeurte aangepas is. Die eilandspan het uiteindelik net-net te kort geskiet (159/6), wat die tuisspan met vyf lopies laat wen het.

Die VSA het drie paaltjies in die eerste nege boulbeurte verloor (45/3), maar Monank Patel (35) en Aaron Jones (77 van 117 balle) het ’n goeie vennootskap gebou, voordat Karima Gore (31) en Elmore Hutchinson (42*) hul totaal ’n hupstoot gegee het.

Die 37-jarige Hutchinson het ná ’n reënonderbreking teruggekeer en 24 lopies van die laaste boulbeurt gemoker, in sy onoorwonne kolfbeurt van net 21 balle (1x4 4x6).

PNG – desperaat vir hul eerste wenpunte in die kompetisie, nadat hulle reeds vier wedstryde in ’n vorige mini-toernooi verloor het – se aanvanklike teiken is op 177 lopies in 25 boulbeurte gestel en hulle het aggressief gespeel en vinnig tussen die paaltjies gehardloop.

Nadat Tony Ura in die tweede boulbeurt uitgehardloop is, het kaptein Assad Vala (46) en Charles Amini (55) goed saam gekolf.

Die uitslag het van die laaste boulbeurt afgehang, maar Rusty Theron, die voormalige Suid-Afrikaner, het as bouler die VSA se oorwinning beklink toe hy die paaltjie van Amini geneem het. Jason Kila (8) en Alei Noa (5) het hard probeer, maar kon nie die knoop deurhaak nie.

Die 34-jarige Theron het in sy loopbaan reeds vir spanne soos Suid-Afrika (2010 tot 2012, vier eendagwedstryde en nege T20I’s), Suid-Afrika A, die Oostelike Provinsie en die IPL-franchises Kings XI Punjab en Rajasthan Royals sy ondervinding wêreldwyd opgebou. Hy

Die speler van die wedstryd, die VSA se Jones, het agterna gesê: “Dit was ’n baie spesiale dag vir krieket in die VSA – ons eerste internasionale eendagwedstryd op tuisbodem.

“Dit was goed om die loot te wen, maar ons het vroeë paaltjies verloor. Ek het vir myself gesê ek moet enduit deurkolf. Die kolfblad was ’n bietjie stadig, maar ek het geweer sodra ek my voete vind, sal ek lopies kry. Ek het in die nette goed gekolf en moes net fokus om my taak uit te voer.”

Die nuwe Wêreldbeker Liga Twee-reeks wat tot in 2022 strek, dien as ’n kwalifiserende stelsel vir die 2023 Wêreldbekertoernooi in Indië. Sewe lande (Nepal, Skotland, die Verenigde Arabiese Emirate, Namibië, Oman, PNG en VSA) sal in die driehoekige mini-toernooie punte opbou met die doelwit om vir die finale WB-uitduntoernooi te kwalifiseer. ’n Span verdien twee punte met elke wedstryd wat hy wen.

• Die Namibiese spelersgroep van 14 in die VSA: Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck (onderkaptein), Bernard Scholtz, JJ Smith, Helao (Pikky) Ya France, Tangeni Lungameni, Zane Green, Christi Viljoen, Stephen Baard, Craig Williams, Zhivago Groenewald, JP Kotzé, Karl Birkenstock, Ben Shikongo.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!