ECN beloof deursigtigheid
ECN beloof deursigtigheid

ECN beloof deursigtigheid

Namibiërs het niks om oor bekommerd te wees nie, sê die Verkiesingskommissie van Namibië.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Ondanks volgehoue kommer oor die doeltreffendheid van elektroniese stemmasjiene (EVM’s) hou die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) vol die masjiene sal waterdigte uitslae in die komende presidensiële- en Nasionale Vergadering-verkiesings lewer.

Die EVM’s sal vanjaar weer sonder ’n nagaanbare papierspoor (VVPAT) gebruik word – wat veral opposisiepartye ontstig.

Die ECN se hoofverkiesingsbeampte, mnr. Theo Mujoro, sê dít is nie om geld te spaar nie, maar omdat die VVPAT “tegniese uitdagings” bied.

“Ons het ’n aantal foute opgetel,” sê Mujoro.

Die VVPAT-funksie moet met die beheer- en stembriefeenhede verbind word, maar volgens Mujoro het die ECN gevalle in die prototipe opgemerk waar die eenhede nie met die VVPAT kon kommunikeer nie.

“Daar was sulke situasies en dit was nie goed om te sien nie,” sê hy.

Tweedens kan papier in die masjien vassit ná kiesers gestem het.

“Wanneer dit gebeur, vereis dit gewoonlik ingryping van ander individue, en dan kom die geheimhouding van die stem in die gedrang,” sê Mujoro.

EVM’s word ook in Indië gebruik, en hier het kiesers beweer dit wat op die uitgedrukte weergawe staan, strook nie met hul stem nie.

“Ons het verskeie situasies geëvalueer en daarvolgens besluit dit sal nie gepas wees nie. Namibië kan nie VVPAT-tegnologie gebruik voor die bogenoemde kwessies nie uitgestryk is nie,” sê hy.

Mujoro sê Namibië se EVM’s het wel ’n papierspoorfunksie.

“Sou ’n spesifieke masjien se uitslae by enige gegewe kiesstasie om welke rede ook al bevraagteken word, kan enige bevoegde hof die ECN opdrag gee om ’n uitdruk te maak. ’n Papierspoor sal dus duidelik wys hoe stemme op die betrokke masjien uitgebring is.

“Mense is geneig om te sê ons het nie ’n papierspoor nie, ons hou nie van EVM’s nie. Dit is verkeerd. Ons EVM’s het ’n papierspoorfunksie, maar ons is vir eers nie in staat om die VVPAT-tegnologie saam met die EVM’s te implementeer nie.”

Volgens Mujoro sal die uitslae van alle stemme op ’n spesifieke EVM gelewer word sodra die uitslaeknop op die beheereenheid gedruk word wanneer kiesstasies om 21:00 sluit.

Die uitslag sal onmiddellik op die masjien se vertoonvenster die aantal kiesers wys wat gestem het, asook die aantal stemme wat elke kandidaat ontvang het.

Die oomblik wanneer die proses voltooi is, word die beheereenheid aan ’n drukker gekoppel wat die uitslae druk. Die uitslae by elke kiesstasie moet deur agente van politieke partye afgeteken word en word in triplikaat gedruk.

Een afskrif van die uitslae word dan buite die kiesstasie opgeplak, een word aan die verkiesingsleier by elke kiesstasie oorhandig en die derde afskrif word aan elke kiesafdelingshoof oorhandig.

Laasgenoemde tel dan al die stemme van al die kiesstasies in die kiesafdeling vir gekonsolideerde uitslae.

Die uitslae word na die sentrale sentrum vir verkiesingsuitslae in Windhoek by die ECN se hoofkantoor deurgestuur, waar alle uitslae van oraloor die land getel word voor dit bekend gemaak word.

Volgens Mujoro sal die ECN van MTC gebruik maak om die uitslae van die sowat 2 400 kiesstasies na die 121 versamelpunte in alle kiesafdelings en weer na die sentrale uitslaesentrum deur te stuur.

“Ons het genoeg ondervinding en ons het harde lesse uit die 2014-ervaring geleer. Ons verwag nie weer dieselfde uitdagings nie. MTC het ook sy dekking die afgelope vyf jaar uitgebrei. Daar is nie ’n manier waarop enigiemand ons uitslae tydens die oordragproses kan onderskep nie, vergeet maar daarvan. Selfs al sou iemand dit probeer doen, sal ander lae en vlakke so ’n poging verklap.”

Volgens Mujoro gaan ’n veilige oordragkanaal vir die stuur van die uitslae geskep word.

“Ek het geen twyfel daar sal volle integriteit wees, en niemand hoef oor iets bekommerd te wees nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!