ECN opnuut in die spervuur

Byna ’n maand ná die aanvullende registrasieproses kan die nasionale kiesliggaam nog geen uiteensetting van dié proses verskaf nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Mnr. McHenry Venaani, die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), het gister gesê die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het opnuut klaaglik misluk.



Die leier van die amptelike opposisie het geen doekies omgedraai oor die nasionale kiesliggaam se hantering van die agt dag lange aanvullende registrasieproses wat 15 September ten einde geloop het nie.

Teen gister – meer as drie weke later – was die ECN nog nie in staat om te sê presies hoeveel mense aan dié proses deelgeneem het nie.

By monde van sy woordvoerder, me. Lina Ndengu, het die ECN eweneens toegegee dié liggaam kan nie sê hoeveel mense vir die eerste keer as kiesers geregistreer het nie en hoeveel mense opgedaag het vir byvoorbeeld kaartvervangings nie.

Venaani het gister by navraag gesê: “Dit is tekenend van ’n mislukte stelsel saam met die feit oor wie die stembriewe sal druk. Dié is kommerwekkende verwikkelinge.”

Stemgeregtigde Namibiërs sal op 25 November by wyse van tradisionele stembriewe aan die streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings deelneem.

Dít kom nadat die hooggeregshof vroeër vanjaar gelas het elektroniese stemtoestelle (EVM’s) mag eers weer in ’n nasionale verkiesing gebruik word as hulle vergesel word deur ’n naspeurbare papierspoor.

Mnr. Theo Mujoro, die hoofkiesbeampte van die ECN, het vroeër gesê dit sal die belastingbetaler nagenoeg N$100 miljoen uit die sak jaag om die toerusting te bekom en in werking te stel om ’n naspeurbare papierspoor moontlik te maak.

‘ONRUSBAREND’

Die leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Mike Kavekotora, het gister gesê hy het probeer om Mujoro telefonies te bereik om klarigheid te bekom oor hoekom die besonderhede oor die aanvullende registrasieproses steeds nie beskikbaar is nie.

Dié pogings het egter geen vrugte afgewerp nie, voer Kavekotora aan. “Ek het selfs probeer om vir Mujoro te bel rakende die kwessie, maar hy het nie sy foon geantwoord nie. Dit is nogal onrusbarend.”

Die uitvoerende direkteur in die kantoor van Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Austin Samupwa, het gistermiddag skouers opgetrek toe Republikein hom om kommentaar nader oor die vertraging. “Goeiemiddag. Vra asseblief vir hulle (ECN).”

Die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), mnr. Graham Hopwood, het gister gesê ’n blywende kommer is of mense wat hul plaaslike owerheid moes bevestig kry, wel geholpe geraak het.

Geskoei op wat hulle verneem, was aanduidings dat ECN-beamptes nie behoorlik opgelei is om met die verandering op sommige kiesers se kaarte van “NA” na “LA” om te gaan nie, sê hy.

Hy was ook verbaas dat die detail oor die aanvullende registrasieproses steeds nie beskikbaar is nie, terwyl die ECN gedurende die proses reeds voorlopige data openbaar gemaak het.

Ndengu het gister in reaksie op die vertraging gesê sy kan nie sê wanneer hulle die data bekend sal kan maak nie. “Ek weet rêrig nie.”

In dié stadium is die voorlopige aanduiding dat nagenoeg 180 000 mense aan die proses deelgeneem het, sê sy.

Maar, maan sy, die finale syfers en die verdeling tussen wie vir die eerste keer geregistreer het en wie byvoorbeeld vir vervangings of wysigings geregistreer het, moet nog ontleed word.

Maandag was die laaste dag waarop belanghebbendes kapsie kon maak teen die voorlopige kiesrol, sê sy.

Sy het toegegee die mense wat aan die onlangse aanvullende registrasieproses deelgeneem het, sou deel uitgemaak het van die voorlopige rol wat tot Maandag vir insae by kiesafdelings ten toon gestel is.

Die ECN wag ook steeds op terugvoering van kiesafdelings om vas te stel of daar wel mense kapsie gemaak het, het sy gister gesê.

“Op die oomblik is politieke partye en onafhanklike kandidate besig met hul benoemingsproses vir kandidate.”

Sy sê daar is 121 streekraadskiesafdelings en 57 kiesafdelings vir plaaslike owerhede.

Elk van die kiesafdelings het tot ses registrasiepunte gehad en al daardie data moet verwerk word, sê Ndengu.

Mujoro het Sondag 13 September ’n verklaring uitgereik waarin hy gesê het ongeveer 96 247 stemgeregtigde Namibiërs het tussen 7 en 12 September aan die registrasieproses deelgeneem.

Van dié getal is 34 270 nuwe voornemende kiesers wat vir die eerste keer registreer, het hy toe gesê. “Die verskil is mense wat registreer weens ’n verandering van adres en die vervanging van verlore of beskadigde kieskaarte.”

Ondanks verskeie pleidooie om die aanvullende registrasieproses te verleng, het die ECN verseg om aan dié versoeke gehoor te gee.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer