ECN sê oor Itula, Amupanda en kie

Hoewel die vreugdesvure reeds hoog brand, moet nuwe politieke hoopvolles nog ’n hekkie oorbrug.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) sê by monde van sy hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, geeneen van die nuwe politieke hoopvolles is al geregistreer nie.

Dít kom ondanks die lofliedere wat reeds in dr. Job Amupanda van die Regstellende Herposisionering (AR) en dr. Panduleni Itula van die Independent Patriots for Change (IPC) se geledere weerklink.

Amupanda het reeds in die sosiale media fees gevier oor hul beweerde suksesvolle registrasie, terwyl Itula Vrydag by ’n Windhoekse hotel sy party bekend gestel het.

Dié tandarts, wat verlede jaar as mede-Swapo-lid vir pres. Hage Geingob laat les opsê het in die presidensiële verkiesing, is ook die afgelope naweek tot president van die IPC verkies.

Swapo het hom vanjaar amptelik in die pad gesteek ná daar dadels gekom het van vroeëre pogings om van hom ontslae te raak.

Mujoro het laat verlede week by navraag gesê hulle het sewe nuwe aansoeke van politieke organisasies ontvang.

Hulle is AR, AR Walvisbaai, AR Swakopmund, Omaruru Community Development Organisation, Rundu Urban Community Association, People Organised Working for Economic Reality vir deelname in die Walvisbaai- plaaslike owerheid en IPC.

Volgens hom het die ECN “goeie vordering” gemaak wat die verwerking van die aansoeke betref. “Die meeste aansoeke is tans in ’n gevorderde stadium in die proses.

Mujoro sê ’n kennisgewing sal eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer word oor dié partye.

Dié kennisgewing moet 30 dae beskikbaar wees om deur die publiek vir moontlike teenkanting gefynkam te word, sê hy.

“Om jou vraag te beantwoord, geen van die nuwe organisasies en/of politieke partye is tot dusver geregistreer nie, omdat die proses soos bo uiteengesit, nog moet plaasvind.

Verkiesings en Covid-19

Mujoro het voorts gesê hulle is steeds in gesprek met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste oor die ECN se konsepstrategie om die verspreiding van Covid-19 tydens later vanjaar se plaaslike owerheid- en streekraadsverkiesings te beperk.

Die ECN-voorsitter, adv. Notemba Tjipueja, het in Junie gesê die beplande verkiesings, wat vir November geskeduleer is, gaan voort.

Dít kom ondanks die uitbreking van Covid-19 en die gepaardgaande maatreëls om die verspreiding daarvan te probeer hokslaan.

Ingevolge ’n hooggeregshofuitspraak van vroeër vanjaar sal tradisionele stembriewe vir die verkiesings later vanjaar gebruik word.

Die land se hoogste hof het gelas elektroniese stemtoestelle (EVM’s) mag slegs weer in ’n verkiesing ná 21 Maart 2020 gebruik word indien dit met ’n naspeurbare papierspoor vergesel word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!