ECN sê oor kiesfoute
Gesprekke oor koalisievorming in verdeelde plaaslike owerhede het gister meestal agter die skerms voortgeduur onder raadslede wat nog nie ingehuldig is nie.
Augetto Graig – Vier herverkiesings is in die Suide van Namibië op hande en die ongeldigverklaring van uitslae in drie dorpsraadverkiesings.
Die Verkiesingskommissie (ECN) het gister duidelikheid gegee oor die pad vorentoe met hierdie betwiste uitslae. Op ander plekke in die land eis sekere partye ook dat stembriewe weer nagegaan word.
Intussen is Swapo se toenadering tot twee opposisiepartye deur hierdie opponente verwerp.
Pres. Hage Geingob het as Swapo-leier gister gesê die regerende party aanvaar die uitslae van die verkiesing. “As demokrate aanvaar ons die wil van die mense,” het hy gesê.
Swapo se sekretaris vir inligting, me. Hilma Nicanor, het Maandag dieselfde boodskap tydens ‘n nuuskonferensie by Swapo se hoofkwartier in Windhoek oorgedra. “Van alle Swapo-raadslede word verwag om voort te gaan met die begrip dat ons die nasie gehoor het, moet dienste lewer en ons manifes moet uitvoer,” het sy gesê.
As Swapo se sekretaris-generaal het me. Sophia Shaningwa dieselfde dag in ‘n brief aan streekskoördineerders die party se politburo se opdrag oorgedra om slegs samewerking met Nudo en die UDF te oorweeg waar Swapo nie oor ‘n volstrekte meerderheid beskik nie. By navraag het sy gesê die party het “geen standpunt” oor samewerking met ander raadslede in Windhoek nie.
Nudo se sekretaris-generaal, mnr. Josef Kauandenge het Maandag reeds in ‘n nuusvrystelling laat weet sy party het intern beraadslag en besluit om op Okakarara met die Popular Democratic Movement (PDM) te gesels oor die moontlikheid van ’n koalisie, en met verskeie opposisiepartye, waaronder die Landless People’s Movement (LPM) in die geval van Gobabis. “Wat Windhoek en Omaruru betref, bespreek ons steeds samewerking binne ons eie strukture op voetsoolvlak,” het hy gesê.
Mnr. Daniel Tsaneb, ‘n sentrale komiteelid van UDF, het ook koalisies met Swapo verwerp.
“Die Arandis-tak van die UDF distansieer hom van die Swapo-brief wat in die sosiale media die rondte doen,” het hy gister gesê. Partye se takke moet volgens hom sulke besluite neem.
Samewerking met Swapo sal volgens Tsaneb in elk geval op selfmoord neerkom. “Dit sal ‘n selfmoordooreenkoms vir plaaslike takke wees omdat dit vir ons moeilik sal wees om kiesers te oortuig terwyl die res van die opposisie in die rigting beweeg om Swapo van sy mag te stroop.”
Windhoek se nuwe stadsraad sal vandag ingesweer word. In Walvisbaai en Swakopmund is gister reeds met plaaslike owerheidsake hervat onder ‘n nuwe bewind op die twee kiesdorpe.
Me. Lina Ndengu, woordvoerder van die ECN, het gister gesê die kommissie moet volgens wet eers die hof nader oor voorgenome herverkiesings in die landelike streekraadsetel vir Mariental en die plaaslike owerheidsverkiesings op Aroab, Koës en Stampriet. Mense is ontkieser omdat die korrekte stembriewe nie by stempunte beskikbaar was nie.
Hierdie regstellende optrede sal volgens Ndengu so vinnig as moontlik plaasvind.
Die LPM se leier, mnr. Bernadus Swartbooi, het Maandag gesê sy party gaan die ECN hof toe sleep oor ongerymdhede in dele van die land.
“In Stampriet het ons die kiesafdeling los hande gewen. In Walvisbaai se spesiale verkiesing voor stemdag was nie ’n enkele stembrief vir die plaaslike owerheid beskikbaar nie,” het hy beweer.
“Tweehonderd van ons mense was daar om te stem en is gesê om te wag omdat stembriewe kort. Dit het ECN-amptenare drie ure geneem om 12 km te ry om meer te kry. Ons sou daar ander partye ingehaal het,” het hy aangevoer.
Die LPM sou ook met hul prokureurs gesels oor die grense van die John Pandeni-kiesafdeling.
9 VIR NUDO
In gister se spesiale vierbladsyverkiesingsoorsig is verkeerdelik aangedui dat Nudo net sewe plaaslike owerheidsetels gewen het. Dit is nege (twee minder as in 2015), wat twee setels in die betwiste Okarara insluit. Ons vra verskoning vir die oorsig.
Die fout is in die aanlynweergawe reggestel, asook foute in enkele onafhanklike kandidate se stemtotale wat deur ons geoutomatiseerde databasis alles bymekaar getel is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie