ECN stuur geld terug na die tesourie
ECN stuur geld terug na die tesourie

ECN stuur geld terug na die tesourie

Estelle de Bruyn
Opposisiepartye het in die aanloop tot die 2014-verkiesings en daarna herhaaldelik die verkiesingskommissie van Namibië (ECN) versoek om ‘n bykomende belegging in die elektroniese stemtoerusting te maak, wat moet verseker dat ‘n papierrekord tydens verkiesings gehou kan word.
Verskeie opposisiepartye het aangevoer sonder ‘n geldige rekord op papier om die elektroniese proses te rugsteun, die deur vir ‘n konkelry en verkiesingsbedrog wyd oop is.
Die huidige elektroniese stemmasjiene maak nie voorsiening vir ‘n papierrekord nie.
In ‘n verklaring deur die RDP se sekretaris van inligting en publisiteit, mnr. Nghiningilwandubo Kashume, word aangevoer dat die ECN deur die regerende Swapo-party beheer word.
“In sy verslag het die ouditeur-generaal (AG) bevind dat die ECN in die 2014-2015-boekjaar onderbestee het. Dit kom teen die agtergrond van ‘n woordvoerder van die regerende party wat aangevoer het dat die ECN nie voldoende geld het om die elektroniese stemmasjiene van ‘n kieser-verifieerbare papier ouditeringrekord te voorsien nie. Dit is volgens die verkiesingswet ‘n vereiste en om hierdie rede dring die RDP daarop aan dat gehoor aan die wet gegee moet word.”
Volgens die AG se verslag is altesaam N$13 miljoen onbestede geld in die betrokke boekjaar deur die ECN aan die tesourie terugbetaal.
“Dit het meegebring dat baie Namibiese kiesers van hul reg ontneem is om werklik te weet of hul stemme aan die party of kandidaat van hul keuse gegaan het. Dit het nie gebeur omdat daar nie genoeg geld was nie, maar omdat die ECN en die regerende party Namibiese kiesers in die duister wil hou,” voer Kashume aan.
Hy sê die ECN is veronderstel om ‘n onafhanklike en onpartydige instansie te wees.
“Die RDP is daarvan oortuig dat vrye, regverdige, deursigtige en geloofwaardige verkiesings net kan plaasvind indien met die oorblyfsels van verkiesingsbedrog, manipulasie, intimidasie en leuens weggedoen word,” sê hy.
Die RDP het ‘n beroep op pres. Geingob gedoen om die ECN opdrag te gee om onmiddellik en sonder versuim die nodige regstellende stappe te doen, sodat ‘n papierrekord van enige stemming met behulp van elektroniese stemmasjiene verseker kan word. Die party sê daar is nou voldoende tyd voor die volgende verkiesings om hiervan werk te maak.
“Die kwessie van ‘n gebrek aan geld soos deur die ECN en ander aangevoer, is ‘n politieke foefie wat niks positiefs tot nasiebou, stabiliteit en langtermynontwikkeling bydra nie. Die RDP wil net die beste vir die land hê,” lui die verklaring.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!