‘Ecocide’ – doen jou deel!
Gerine Hoff
Ek lees nou die dag ’n berig op BBC oor “ecocide”. As jy nog nie daarvan gehoor het nie, is jy nie alleen nie! Waarop dit neerkom, is die hoop om die verwoesting van die omgewing te kriminaliseer.
Onmiddellik wil ek deel van dié beweging wees. Kan jy jouself indink watter verskil hierdie soort wetgewing aan die beskerming van ons renosters kan maak? Ons rooshoutbome? Die arme ietermagô?
Wikipedia beskryf “ecocide” as ’n menslike aktiwiteit wat die beginsels van omgewingsgeregtigheid skend, soos deur ekostelsels noemenswaardig te beskadig of deur die gesondheid en welstand van ’n spesie te benadeel.
Voorts sê eradicatingecocide.com dit verwys na groot skade aan, vernietiging van of verlies van ekostelsels in ’n spesifieke gebied, hetsy deur die mens of weens ander oorsake, in só ’n mate dat die vreugde wat inwoners van daardie area daaruit put, ernstig belemmer of tot niet gemaak word.
Volgens kampvegters is kriminalisering van “ecocide” ’n radikale dog redelike idee: Die teorie is niemand mag ongestraf bly vir die vernietiging van die natuurlike wêreld nie. Voorts meen hulle dié misdaad hoort eintlik onder die jurisdiksie van die Internasionale Strafhof (wat op die oomblik net volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade en misdade van aggressie vervolg).
Genadiglik, ná dekades van stilswye, word die kwessie deesdae ook deur parlementslede en leiers oraloor die wêreld bespreek. Onder hulle tel die Franse president, Emmanuel Macron, wat ernstig is om die verwoesting van die natuur strafbaar te maak.
Die Stop Ecocide-veldtog meen ons sit vandag juis met ekologiese rampe weens dekades van onbeheerde, wydverspreide en stelselmatige skade aan die natuur wat veroorsaak word deur nywerheidsaktiwiteite – eintlik maar die mensDOM.
Volgens data van Nasa was 2019 die tweede warmste jaar nóg en in Mei het die konsentrasie koolstofdioksied in die aarde se atmosfeer 416 dele per miljoen bereik – ook die hoogste wat dit in menseheugenis was.
In dieselfde jaar het die omgewingsinligtingsorganisasie Mongabay berig dat ontbossing in die Brasiliaanse Amasone die hoogste vlak in die vorige tien jaar (9 762 km²) bereik het; dié reënwoud word elke sekonde teen ’n tempo van ’n sokkerveld vernietig.
Ek dink dalk het Fr. Joshtrom Kureethadam (die koördineerder van die afdeling oor ekologie en skepping by die Vatikaan) dit die beste beskryf: “’n Verandering in lewenstyl – beide persoonlik en gesamentlik – moet begin met ’n morele ontwaking, ’n ekologiese bekering. Ons moet ons onvolhoubare verbruikspatrone ondersoek. Ons moet besef dat ons verslawing aan buitensporige hoeveelhede goedere, geriewe en dienste, die atmosfeer, woude en oseane vernietig.”
Eintlik hoef jy nie ’n wêreldleier of ’n wetgewer te wees nie, of duisende Twitter-volgelinge te hê om ’n verandering te maak nie. Of jy jou steun aan ekologiese versoekskrifte leen (soos dié op Stop Ecocide se webwerf), rommel optel of volhoubare plaaslike produsente ondersteun – selfs die kleinste stap kan help om weer balans in die natuur te bring.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie