• Tuisblad
  • Sake
  • Edcon: ‘100% skuldvry, 100 000 poste gered’
Edcon: u2018100% skuldvry, 100 000 poste geredu2019
Edcon: u2018100% skuldvry, 100 000 poste geredu2019

Edcon: ‘100% skuldvry, 100 000 poste gered’

William Horne – Edcon is amptelik sonder ’n sent skuld en het genoeg kontant om vir “minstens twee jaar” op dreef te bly, maar net enkele van sy bekende handelsmerke gaan oorleef.

“Ons het nul rand skuld nou. Oor drie jaar beoog ek om die maatskappy weer onafhanklik te sien,” sê Grant Pattison, die kleinhandelgroep se uitvoerende hoof.

Pattison het Dinsdagaand op ’n voorlegging in Sandton vir die Gordon Institute of Business Science (Gibs), die sakeskool van die Universiteit van Pretoria, gesê dit was vir sleutelspelers in sowel die private as openbare sektor baie belangrik dat die maatskappy oorleef. Hulle het saam verseker het dat Edcon ontslae raak van sy skuldlas van R7 miljard, wat steeds spruit uit die privatisering van die firma meer as tien jaar gelede.

Edcon, wat onder meer Edgars, Jet, Thank U- finansiële dienste en CNA besit, is al sedert Desember in noodgesprekke om sy besigheid en sowat 100 000 regstreekse poste en onregstreekse poste (onder meer by verskaffers) te red.

Die Mededingingstribunaal het op 9 Mei ’n nuwe rakmaatskappy, vir eers net bekend as die NewHold Co, goedgekeur wat nou beheer sal neem van al Edcon se uitgereikte aandele. Dit sluit in maatskappye wat in Edcon-effekte belê het, aan wie Edcon geld geskuld het, insluitend die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en banke, asook die eienaars van groot winkelsentrums waar Edcon ruimte huur. Verskeie groot verhuurders het afslag op huur in ruil vir ’n belang in Edcon verruil.

Een van die OBK se kliënte, die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), ’n kontant in die groep belê.

“Die enigste rede hoekom ons vandag hier staan, is omdat nie ’n enkele van dié sleutelspelers wou hê dat die ooreenkoms om die besigheid te red, moes misluk nie,” sê Pattison. Edcon “was te groot was om te misluk”.

“Nie een mens uit al daai belanghebbendes het ooit die ooreenkoms teengestaan nie. Nie een wou ooit hul naam sien langs ’n rede hoekom so ’n groot onderneming en werkskepper bankrot gegaan het nie.”

Pattison, voorheen uitvoerende hoof van Massmart, verduidelik toe hy in April 2017 ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Edcon geword het, het die onderneming pas sy skuldlas van R27,6 miljard tot R7 miljard verminder deurdat banke aandele verkry het in ruil vir hul lenings. Die skuld spruit uit Edcon se denotering ’n dekade vantevore. Die Amerikaanse beleggingsbeheerfirma Bain Capital het ander aandeelhouers uitgekoop, maar die transaksie is met skuld gefinansier.

Volgens Pattison was die werklike situasie by Edcon heel anders as wat aandeelhouers gedink het ná die “oorwinning” dat skuld tot R7 miljard verminder is.

Toe hy in Julie 2017 as uitvoerende hoof aangewys is, ’n pos wat hy eers ses maande later amptelik oorgeneem het, moes R3,5 miljard van die skuld reeds herfinansier word.

Ek moes toe ook aan die direksie gaan verduidelik dat hul maatskappy eintlik nie R10 miljard werd was soos hulle gedink het nie. Dit was meer soos nul rand werd.

Grant Pattison, Edcon-hoof

“Ek moes toe ook aan die direksie gaan verduidelik dat hul maatskappy eintlik nie R10 miljard werd was soos hulle gedink het nie. Dit was meer soos nul rand werd.

Die winsmaatstaf wat Edcon op daardie tydstip gebruik het om sy balansstaat te evalueer, het volgens Pattison ’n enorme wanpersepsie geskep aangesien dit nie die skuldlas weerspieël het nie. Die maatstaf van verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) is gebruik.

“Ebitda beteken kapitaal is ‘verniet’. Dit laat jou die belangrikste deel van jou onderneming, naas verkope, ignoreer: die toewysing van kapitaal.

“Dit was ’n rowwe begin.”

Edcon as onderneming was op bedryfsvlak steeds ’n uitstekende onderneming, maar herstrukturering en ander koste was besig om dit in die wiele te ry, sê Pattison.

Een so ’n koste was dié van adviseurs wat selfs ná die herstrukturering van 2016 ingegrawe was by Edcon.

“Toe ek as uitvoerende hoof ingetree het, het ek Bain en PwC dadelik die deur gewys. Bain het bykans R1 miljard uit ons uit getap en het nooit erken dat hulle min, oftewel niks, daarvoor te wys gehad het nie.”

Dié Bain is nie die vorige eienaar, Bain Capital nie, maar die adviesdiensfirma wat verlede jaar in die nuus was vir die fatale “herstruktureringsplan” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Daarna het Pattison en sy span ’n herkapitaliseringsplan begin aanmekaar sit.

“Niemand wou aanvanklik vir ons geld gee of van ons sake-eenhede koop nie.”

Om die OBK aan boord te kry, moes Pattison wys hoe belangrik dit was dat Edcon se deure oop bly. Hulle het klem gelê op die potensiële werkverliese.

“Baie mense het gedink dié strategie was ’n dreigement, maar dit was nie. Dit dit was net waar – 100 000 mense sou hul werk verloor.

“Die vakbonde Saccawu, Sactwu en die vakverbond Cosatu het tot ons redding gekom, hul moue opgerol en gesê: ‘Genoeg is genoeg.”

Die OBK het einde 2018 ’n belegging van R1,2 miljard goedgekeur, maar toe word ’n groot stok in die wiel gegooi: Dr. Daniel Matjila, wat van bedenklike beleggingsbesluite by die OBK beskuldig is, het onder druk bedank.

Pattison sê hulle was ’n geruime tyd onseker of die OBK sou hou by hulle ooreenkoms, maar te danke aan die werk van die minister van arbeid, Mildred Oliphant, het die WVK ingestaan vir dié geld.

Die reddingsplan is onderhewig aan verskeie voorwaardes oor swart ekonomiese bemagtiging en plaaslike verkryging en die beskerming van poste wat die Mededingingskommissie vereis het.

As deel van sy breër herstrukturering vir langtermyn-volhoubaarheid gaan Edcon slegs fokus op Edgars, Jet, CNA en Thank U.

“Enige ander winkelnaam nie op dié lys nie, sal verkoop, toegemaak óf geabsorbeer word.”

Die proses is reeds aan die gang. Netwerk24 het reeds berig dat Boardmans voortaan Edgars Home word en Red Square Edgars Beauty. In sekere winkelsentrums word dié afdelings tot binne-in Edgars-winkels geskuif om aan huur te bespaar.

Edgars-winkels sal ook verminder en verklein word tot beter presterende groottes van sowat 5 000 m², terwyl Jet-takke sal vermeerder en om en gemiddeld 750 m² groot sal wees.

“Aprilmaand was reeds baie goed. Ons is beslis deur die ergste,” sê Pattison.

Maar of Edcon op lang termyn gaan oorleef, bly ’n ope vraag: “Net tyd sal kan sê.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!