Edgars Active-naam gaan verdwyn
Edgars Active-naam gaan verdwyn

Edgars Active-naam gaan verdwyn

Nellie Brand-Jonker – Die handelsnaam Edgars Active gaan nie voortbestaan nie, het Edcon Maandag bevestig.

Dit kom nadat die skoenwinkelgroep Footgear sy Edgars Active- en ’n paar High Key-winkels gekoop het.

Die winkels wat gekoop is, sal in Footgear-winkels omskep word.

Footgear het 63 winkels in Suid-Afrika en sal ná die transaksie sowat 200 winkels hê.

Edcon sê die transaksie sluit aan by sy plan om verbruikers se ervaring van die groep se winkels te vereenvoudig. Edcon wil uiteindelik op net vier handelsname fokus, naamlik Edgars, Jet, CNA en sy lojaliteitskaart ThankU.

’n Woordvoerder sê die proses duur voort om Edcon se ondernemings te “konsolideer, saam te smelt en te hernoem”.

“Ons is tevrede dat die transaksie nie tot werkverliese sal lei nie.”

Footgear het die transaksie met behulp van ’n belegging van Old Mutual Private Equity (OMPE) gedoen.

Die fondsbestuurder het twee maande gelede ’n meerderheidsbelang in Footgear gekoop.

Jacci Myburgh, medehoof van OMPE, sê modieuse sportdrag is ’n kategorie wat verbasend sterk groei ten spyte van die ekonomie wat verswak het.

Volgens hom groei die kategorie die afgelope jare baie sterk. Hy glo daar is ’n “mikrowind in die seile” vir die kategorie.

Dit is veral Puma, Nike, Adidas en Converse wat gewild is in dié mark.

Hy glo dis nie noodwendig ’n modetendens nie, maar ’n tendens van mense wat meer informele as formele klere dra, selfs werk toe.

Dit is hoekom sulke sterk groei in die verkope van ondernemings soos Tekkie Town en Studio 88 gesien is, meen hy.

Myburgh glo die tendens gaan in Suid-Afrika én die res van Afrika voortduur.

Footgear is ’n winkelgroep wat op ’n wyer reeks produkte vir die hele gesin fokus vergeleke met hul mededingers, wat ’n nouer fokus het.

Volgens hom het Footgear ’n baie sterk bestuurspan. Die stigters bly aan by die onderneming. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!