Een dag . . . miljoene jare gelede
Tanja Bause
Op die plaas Spitzkoppe kan ’n mens al die mooiste aanloklikhede wat die suide van Namibië bied, sien. Behalwe vir die kokerbome en dolerietformasies, bied ’n besoek aan die plaas ook die kans om mesosaurus-fossiele te sien.
“Dié fossiele kom in die suide van Namibië asook in Suid-Amerika voor, wat waarskynlik een van die grootste bewyse is dat al die vastelande op ’n stadium deel van die Gondwana-superkontinent was,” sê mnr. Giel Steenkamp.
Hy vertel hoe hy 25 jaar gelede besig was om met ’n trekker ’n pad na die kokerboomwoud te bou. Sy 10-jarige seun Hendrik het langs die pad met klippe gesit en speel toe hy ’n groot klip vir sy pa bring. Dit het eienaardige merke op gehad wat vir hom vreemd gelyk het. Steenkamp het die klip oopgekap en só het hy op die eerste fossiel afgekom.
“Ek het gedink dit was ’n fossiel van ’n salamander, maar my swaer sê toe vir my salamanders bestaan nog nie so lank nie.”
Sy swaer het die klip na die Universiteit van Stellenbosch geneem waar dr. Burger Oelofsen dit as die fossiel van die mesosaurus tenuidens identifiseer het. Die reptiel het soos ’n klein krokodil gelyk, met ’n lang snoet en fyn tande.
“Die kleinste fossiel wat ons hier gevind het, was 35 cm lank en die langste ’n meter. Dit is die oudste reptielfossiele wat nóg in Afrika gevind is - 270 miljoen jaar oud,” het Steenkamp gesê.
Die diere het in moerasse voorgekom, wat daarop dui dat die suide van Namibië eens onderwater was – iets wat amper ongelooflik klink wanneer ’n mens tussen die geel gras, klippe en kokerbome staan.
Steenkamp wys graag vir besoekers die eerste fossiel wat hy en Hendrik destyds gevind het.
“Julle is welkom om foto’s te neem. Dit gebeur selde dat ’n mens ’n fossiel sien of kan optel,” vertel hy met ’n breë glimlag.
Hy neem ons na twee grafte van die Duitse Schutztruppe Johann Splittgerber en Bernhard Lofink, wat in 1904 op die plaas in ’n skietgeveg met die Namas gesneuwel het. Daarna stap ons deur die kokerboomwoud en die dolerietformasies.
Hy bly by ’n rotsformasie staan, neem ’n klippie en begin teen die formasie kap. “Ek gaan nou vir julle musiek maak,” sê hy en begin “Frère Jacques” en “Nkosi Sikelel' iAfrika” speel.
“Ek is nie ’n baie goeie musikant nie, want ek maak nou al 10 jaar ‘klipmusiek’, en al wat ek ken is dié twee liedjies!” ’n Besoek aan die plaas Spitzkoppe is nie net baie interessant nie, maar ook verskriklik mooi te danke aan die meer as 5 000 kokerbome en die natuurskoon. Boonop is dit ’n fees om na Steenkamp se talle staaltjies en grappies te luister.
Soos hy afsluit: “Ek is immers die jongste fossiel op die plaas!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie