Een man, twee doodsertifikate

'n Man wat verlede maand in die Ohangwenastreek dood is se familie was geskok om uit te vind ’n doodsertifikaat is reeds 11 jaar gelede vir hom uitgereik.
Tuyeimo Haidula
Tuyeimo Haidula op Oshakati – Die familie van 'n man wat verlede maand in Ondobe in die Ohangwenastreek dood is, het ontdek die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het reeds 11 jaar gelede ’n doodsertifikaat vir hom uitgereik het.

Mnr. Jason Shaalukeni Dila is op 31 Julie op 69-jarige ouderdom dood ná 'n kort siekbed in die Eenhana-staatshospitaal. Sy familielede was geskok toe hulle uitvind hy is reeds 11 jaar gelede, op 22 Maart 2010, “dood” aan ‘n skedelbeensiekte.

Me. Wilhelmina Ndahafa Silas het in 'n telefoniese onderhoud met ons susterkoerant Namibian Sun gesê toe hulle na die lykshuis toe is om 'n doodsertifikaat te kry, het die ministerie van binnelandse sake se stelsel getoon daar is reeds 'n bestaande een wat in 2010 deur me. Veronica Tambuleni Ananias afgeteken is.

Silas het gesê die ministerie het uiteindelik 'n alternatiewe handgeskrewe sertifikaat uitgereik om die familielede in staat te stel om met begrafnisreëlings voort te gaan. Die bestaande doodsertifikaat in die stelsel moet egter ondersoek word.

Silas het gesê die familie ken nie vir Ananias nie, wat volgens die vervalste sertifikaat 'n niggie van die oorledene is. Die polisie en amptenare van die ministerie van binnelandse sake het die beskuldigde, wat nog nie in hegtenis geneem is nie, opgespoor en ondervra.

Die adjunkkommissaris vir misdaadondersoeke in die Ohangwenastreek, insp. Zacharias Amakali, het gesê die verslag is nog steeds by die ministerie en geen saak is al aanhangig gemaak nie.

“Dit was vir ons oorweldigend. Ons was so teleurgesteld en weet steeds nie wat ons moet doen om antwoorde te kry nie. Stel jou voor jou pa wat nog gelewe het, was reeds dood, en pleks daarvan om met die begrafnisreëlings te begin, is jy besig om raaisels op te los,” het Silas gesê.

Die woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, me. Margaret Kalo, het aan Namibian Sun verduidelik hulle moet die saak eers deeglik ondersoek voordat hulle 'n verklaring kan uitreik.

Kalo het gesê vervalste doodsertifikate kan in drie scenario's uitgereik word: “In die geval van identiteitsdiefstal. Of 'n dokter kan met iemand saamwerk wat ‘n ander persoon dood wil laat verklaar en 'n brief uitreik waarin ‘n tyd en doodsoorsaak bevestig word. Administratiewe foute kan ook daartoe lei dat iemand 'n bestaande doodsertifikaat het terwyl hy nog lewe, maar dit is selde die geval omdat werknemers deeglik werk wanneer hulle dié sertifikate uitreik,” het sy gesê.

Namibian Sun het Ananias, wat die eerste doodsertifikaat afgeteken het, geskakel en bevestig dat dit wel haar handtekening op die dokument is.

Ananias het gesê sy is deur Dila se “vrou”, me. Julia Shapulwa, aangesê om dit te doen. Sy het gesê Shapulwa is intussen oorlede en sy het geen idee wanneer sy dood is nie, aangesien sy nie die begrafnis bygewoon het nie, maar mondelings van haar heengaan in kennis gestel is.

Sy het gesê Dila het 'n graf in die Etope-begraafplaas in die Omulonga-kiesafdeling, maar hy het nie ‘n grafsteen nie. Dit sou dus baie moeilik wees om die graf op te spoor.

Volgens Ananias het Shapulwa haar in kennis gestel van Dila se dood, en haar vertel hy het siek geword nadat hy teruggekeer van die land se 20ste onafhanklikheidsvieringe by die cuca-winkels, wat hulle laat vermoed het dat hy vergiftig is. Sy het gesê sy, Shapulwa en ander familielede het gegaan om sy liggaam by die Ohangwena-polisie te identifiseer en op te eis.

Sy het gesê sy kon nie bevestig of die liggaam wat hulle begrawe het, wel dié van haar oom was nie, aangesien sy 32 jaar oud en dus baie jonk was om die lyk te sien. Daarom het sy op Shapulwa se uitkenning staatgemaak om die doodsertifikaat af te teken.

Ananias, nou 42 jaar oud, het gesê sy het verskeie oproepe van amptenare ontvang om navraag te doen oor die raaiselagtige doodsertifikaat. Sy het ontken dat sy haar vermeende oom se dood vervals het om hom af te pers, siende dat hy werkloos was en klein werkies by veeposte gedoen het. “Hy het nie veel gehad om te bied nie.”

Dila word oorleef deur 11 kinders en twee vroue. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer