• Tuisblad
  • Sport
  • Een punt genoeg vir Affies se eerste Super-triomf

Een punt genoeg vir Affies se eerste Super-triomf

Skolerugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Dit was 'n bitter be­langrike deurbraak vir ons skool, het afrigter Johan Zaayman gesê nadat sy KMC/JCC Windhoek Afrikaanse Privaatskool op drama­tiese wyse die Momentum o.19 Superliga-eindstryd vir die eerste keer in sy geskiedenis teen die titelhouer, Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, beklink het.

Affies het vir die ganse wedstryd agtergeloop totdat hy in die laaste minuut 'n verdoelde drie deur die stut Jurgen-Leigh Human kon behaal om met 26-25 te wen.

Daar was nog tyd vir een afskop, maar Affies se voorspelers het die bal beskerm totdat die finale toeter geblaas het, waarna hul reserwehaker Lucas Maree die bal oor die kantlyn gesool het, as uitnodiging vir die ganse skool om op die veld te storm en mekaar in emosionele omhelsings vas te gryp.

Windhoek Gimnasium se bulstut Ethan Thiart het die enigste drie van die eerste helfte ná agt minute gedruk, toe skrumskakel Archie Norval hom ná een losskrum weggestuur het met sy gewig en momentum onstuitbaar so naby die doellyn.

Tesame met heelagter Wiks Tromp se twee strafdoele en doelskop het Gimnasium rustyd met 13-9 voorgeloop, nadat Windhoek Affies se los­skakel Johan Zaayman hulle met drie strafdoele binne trefafstand gehou het.

Zaayman het sake ná rustyd met 'n skepdoel aan die gang gesit, maar Gimnasium het voortgebou met 'n drie deur sy regtervleuel Lyle Beukes, gevolg deur Ethan Thiart se tweede, soortgelyke storm-drie om met 25-12 beheer te neem.

Vleuel Louis Karsten se tweede drie in twee naweke het Windhoek Affies se laat terugvegpoging begin, maar 'n keerpunt was toe Thiart en Lyle Beukes, die driedrukkers, kort ná mekaar met geel kaarte afgestuur is (58ste en 65ste minute). Die Gimnasium Leeus se ondersteuners was agterna erg ontsteld oor dié en ander beslissings van skeidsregter Stephan Kellermann, veral ná die teleurstelling van Affies se laat wendrie.

• Samsung Windhoek Hoër­skool het sy seisoen op 'n positiewe noot afgesluit toe hy Vrydagaand sy bronsfinaal in die o.19 Superliga teen OK Foods Moria Privaatskool met 31-27 gewen het.

Die hardnekkige spannetjie van Outjo het egter weer nie met sy aanskoulike veggees teleurgestel nie, toe hy rustyd met 15-12 voor was en weer laat in die tweede helfte met 27-24 die voortou geneem het.

WHS het uiteindelik die knoop deurgehaak met 'n laat wendrie deur die flank Kyle Ducie. Die skrum­skakel Jacques Theron, vleuel Warren Ludwig (2) en heelagter AJ Zaahl was die wenspan se ander driedrukkers. Theron en losskakel Elmarco Beukes (2) het met doelskoppe geslaag.

Vir Moria het binnesenter Pieter-Daan Mostert twee drieë gedruk en die skakelpaar DJ Holtzhausen en Jan Willem van Zyl elkeen een. Holtzhausen, die losskakel en kaptein, het ook sewe skoppunte bygevoeg.

Moria is agterna met die finale se mooispeel-trofee beloon.

• Die o.19A-finaal was 'n botsing tussen twee kusspanne, met Mototech Pro-Ed Akademie wat uitstekend in die tweede helfte die tempo versnel het om Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool met 24-10 te klop.

Walvisbaai, wat vroeër die liga-ontmoeting tussen die twee spanne beklink het, het Saterdag teen rustyd nog met 10-5 voorgeloop. Die Naartjies moes egter die knie buig voor die Swakopmunders wat met hul haastige agterlynspel die gapings gevind het.

Pro-Ed Akademie se driedrukkers was die vleuel Kyle Saunders, wat vir sy twee drieë as spelers van die wedstryd aangewys is, die agtsteman en kaptein Henry Fourie en die senterpaar Willon du Plessis en Donell Gonteb. Twee van losskakel Godwin Silvanus se doelskoppe was oor.

Walvisbaai kon uiteindelik niks meer aanteken nie as die puik drie wat sy flink heelagter Aston Mukwiilongo in die eerste helfte gedruk het en wat deur senter Jivino Polster verdoel is.

• Die o.15A-finaal is ook betekenisvol vir skole om die vloei van talent vir die senior ouderdomsgroepe vir die volgende jare te monitor.

Windhoek Gimnasium­ het hier met 23-15 as wenners van die veld gestap teen Windhoek Hoërskool. Gimmies was rustyd met 10-5 voor.

Die wenspan se driedrukkers was senter Owen Hawanga en flank Kayden Schnelle. William Klaazen (losskakel) het met een doelskope en drie strafdoele geslaag.

WHS het met drieë deur flank Bonito Kalinga en heelagter Jean-Henri Rispel geantwoord, asook 'n doelskop en strafdoel deur senter Zian van Wyk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!