Een uit vier Namibiërs honger
Elvira Hattingh – Ná afloop van die droogte het altesaam 25% van Namibiërs of bykans 600 000 mense ‘n dringende tekort aan kos. Dit terwyl 31% oftewel 729 134 mense nie genoeg middele het om ‘n lewensvatbare bestaan te voer nie.
Die regering sal voorts N$655 miljoen nodig hê vir droogtehulp en die korttermynverskaffing van water.
Eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het gister met goewerneurs, voorsitters van streekrade en -bestuurskomitees oor die uitslae van die 2016-’17 opname van kwesbaarheid vir landelike voedselsekerheid en ‘n lewensvatbare bestaan vergader.
Die regering het N$308 miljoen nodig om 595 839 mense met 83 369 metrieke ton voedsel te help. ‘n Verdere N$242 miljoen sal gebruik word om in die kort termyn in te gryp waar watertekort mense bedreig.
Dit volg op die opname van Junie 2015 waarin aangedui is dat altesaam 578 480 mense (amper 25% van die Namibiese bevolking) die beskerming van ‘n lewensvatbare bestaan nodig gehad het. ‘n Verdere 370 316 van hierdie mense (16% van die bevolking) het toe ‘n dringende behoefte aan voedselverskaffing gehad.
Kuugongelwa-Amadhila het gesê die jongste opname het daartoe gelei dat president Hage Geingob onlangs ‘n noodtoestand betreffende droogte in Namibië verklaar het.
Volgens die opname bestaan die grootste behoefte in die Omusatistreek, waar meer as 110 000 mense ‘n dringende tekort aan kos het, gevolg deur die Ohangwena- (101 741 mense) en die Oshikoto-streek (76 903 mense). In Kavango-Oos en -Wes is die syfers onderskeidelik 44 107 en 47 989.
DROOGTE KNOU LANDBOU
Dit het verder bevind dat stygende pryse van stapelvoedsel en kommoditeite, dieresiektes soos bek-en-klou-seer en die droogte daartoe gelei het dat baie mense in landelike gebiede misoeste ervaar het, tans ernstige water- en weidingsprobleme ervaar en dat die swak kondisie van vee veroorsaak dat nie baie melk geproduseer word nie. Boonop het ’n klomp vee reeds gevrek.
Stapelvoedsel soos mieliemeel se prys per kg. het van sowat N$8 in 2015 na bykans N$15 in 2016 gestyg. Sorgum se prys het van N$7 tot N$29 per kg. gestyg.
Volgens die verslag is 91% minder mielies tydens die droogte in die Zambezi-, Kavango-Wes- en Kavango-Oosstreek geproduseer, terwyl minder melk in Namibië geproduseer is. Werkgeleenthede in die landbousektor het met tot 80% gedaal, terwyl die prys van stapelvoedsel drasties verhoog het.
Huishoudings se vermoë om te oorleef, is gekniehalter deur die afgelope jare se vloede en droogtes en boonop beteken beperkte natuurlike hulpbronne dat mense nie meer vir hulself kan werk nie en elders ‘n heenkome moet soek.
Mense het gerapporteer hulle pas aan deur vir werk elders te gaan soek, met veral jong mense wat na dorpe en stede verhuis. Daar word ook meer staatgemaak om vis te vang en boere trek met hul beeste na waar beter weiding beskikbaar is. Terselfdertyd maak hulle groter staat op regeringstoelaes.
AANBEVELINGS
“Boere moet hul kuddes kleiner maak, want anders gaan die gebrek aan kos daartoe lei dat die diere mettertyd almal vrek. As hulle hul vee probeer verkoop, sal hulle nie veel daarvoor kry nie. Die bykomende geld kan gebruik word om kos vir jou vee te koop,” het Kuugongelwa-Amadhila gesê.
Behalwe vir die verskaffing van kos, sluit ander aanbevelings in die opname in dat waterverskaffing verbeter moet word, groter gemeenskapsprojekte vir werkskepping aangepak moet word en dat meer mense vir regeringstoelae moet registreer.
“Boere moet ook gebruik maak van die steun wat die regering bied om diere na beter weiding te skuif. Moenie onwettige dinge doen soos om dit sonder die nodige reëlings oor die grens te neem na plekke wat ernstige dieresiektes het nie.”
Kuugongelwa-Amadhila het gesê die regering help kwesbare mense reeds ‘n geruime tyd deur middel van die droogtehulpprogram en hoop om die N$655 miljoen, wat vereis word om die program voort te sit, uit onder meer die Gebeurlikheidsfonds, Noodfonds en ander bronne bymekaar te maak.
“Ons doen ook ‘n beroep op Namibiërs en die internasionale gemeenskap om ons hierin te steun.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie