Een uit vyf Namibiu00ebrs sterf aan hartsiektes
Een uit vyf Namibiu00ebrs sterf aan hartsiektes

Een uit vyf Namibiërs sterf aan hartsiektes

Namibië is een van die hoogste verbruikers van alkohol in Afrika.
Een uit elke vyf mense in Namibië sterf aan kardiovaskulêre siektes, en een uit 10 aan beserings verwant aan padongelukke, terwyl een uit elke 20 inwoners sterf aan onderskeidelik kanker, diabetes en chroniese lugwegsiektes.

Wêreldwyd eis nie-oordraagbare siektes (NCD's) jaarliks 41 miljoen mense wat 71% van sterftes in die wêreld verteenwoordig. Sowat 16 miljoen van dié sterftes is voor die ouderdom van 70 jaar.

In Namibië rook 20% van die land se inwoners, meer as 40% ly aan hoë bloeddruk en 10% is oorgewig. Met betrekking tot alkohol gebruik Namibiërs tot 11 liter per kop suiwer alkohol – een van die hoogste verbruikers in Afrika.

Slegte leefstylkeuses soos die gebruik van tabak, die skadelike gebruik van alkohol, min of geen fisieke aktiwiteit en ongesonde diëte verhoog die risiko van NCD's.

Volgens die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), me. Juliet Kavetuna, is die bestuur van NCD's duur en plaas dit 'n verdere las op gesondheidstelsels wat reeds oorbelas is deur skaars hulpbronne wat vir ander belangrike ontwikkelingsprioriteite bestem is, te gebruik. Kavetuna het tydens die amp­telike bekendstelling van Namibië se strategiese plan vir NCD's gesê byna driekwart van alle NCD-verwante sterftes, sowat 82% van die 16 miljoen mense wat voor­tydig hieraan sterf, kom in lae- en middelinkomste lande voor.

“Die epidemie van NCD's hou verwoestende gevolge vir individue, ­families en gemeenskappe in en dreig om gesondheidstelsels te oorweldig,” het sy gesê.

Sy het gesê dié siektes word ­vererger deur vinnige, onbeplande verstedeliking, globalisering van ongesonde leefstyle en 'n verouderende ­bevolking. “Ongesonde diëte en 'n gebrek aan fisieke aktiwiteit mag in mense manifesteer as hoë bloeddruk, verhoogde bloedglukose, bloed­lipiede en oorgewig.”

Volgens Kavetuna behels 15 miljoen van alle NCD-sterftes mense tussen die ouderdomme van 30 en 69 jaar.

In die lig hiervan het Namibië 'n ­spesiale eenheid wat risikofaktore vir NCD's takel en leefstylsiektes beheer.

Ook is maatreëls deur middel van wetgewing en beleidsrigtings ingestel om die gebruik van alkohol en tabak te beheer.

Namibië is voorts ook een van min lande in Afrika wat oor 'n kanker­register beskik.

'n Multisektorale plan is nou bekend gestel om die verskillende sektore se pogings te koördineer om nie-oordraagbare siektes in die land te voorkom en te beheer.

Die plan vra vir die vestiging van 'n koördinasieplan onder die leierskap van die kantoor van die eerste minister en met die ondersteuning van die minister van gesondheid en maat­skaplike dienste (MoHSS).

Die las van NCD's en die uit­werking wat dit op die ontwikkeling van die land het, vereis hoëvlakleierskap as 'n saak van dringendheid om die impak hiervan te takel.

Pogings vir die ontwikkeling van riglyne vir die behandeling en ­protokol, asook die ontwikkel van gesondheidsprogramme as teen­voeter vir ongesonde diëte en ­onaktiewe inwoners moet voorts ook versterk word.

Volgens Kavetuna is die opspoor en behandeling van NCD's, sowel as ­palliatiewe sorg, sleutelkomponente van die stryd teen dié siektes.

“As ons saamwerk, kan ons die las van NCD's verlig wat die Afrikastreek teister.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!