Eenjarige renosterkalf gestroop
Eenjarige renosterkalf gestroop

Eenjarige renosterkalf gestroop

Die bekende Kinnear-wildboere in die Gobabis-distrik het weer eens onder renosterstropers deurgeloop.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – ’n Renosterverskalfie van slegs een jaar oud wat steeds aan haar ma gedrink het, is op ’n wildsplaas in die Gobabis-distrik gestroop.

Volgens die mede-eienaar van die plaas, mnr. Walter Kinnear (29), was die witrenosterkalfie se horingstompie “so lank soos ’n pinkie”, deur die stroper(s) verwyder. “Die kalfie is nog nie eens van haar ma gespeen nie.”

Kinnear en sy pa, ook Walter (49), boer saam.

Hy sê hul plaasbestuurder, mnr. Ernie Erasmus, het Sondagmiddag die gru-ontdekking gemaak toe hy aasvoëls gewaar en gaan ondersoek instel het.

Erasmus het Kinnear laat kom.

“Ek het gedink die kalfie is weens natuurlike oorsake dood en toe ek haar karkas wou optel, toe besef ek sy is gestroop,” het Kinnear gister aan Republikein vertel.

“Ons het ’n patroon op die toneel gevind.”

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die renoster tussen Saterdag 17 Oktober en Saterdag 24 Oktober gestroop.

Kinnear het bevestig die Namibiese polisie het na die plaas toe gekom om die saak te ondersoek en alle leidrade op te volg.

Volgens die hoof van die gedugte Blue Rhino-taakspan, komm. Barry de Klerk, help sy span en die eenheid vir beskermde hulpbronne van Windhoek die plaaslike polisie met die ondersoek.

De Klerk het gister aan Republikein bevestig geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort en is in ’n sensitiewe stadium.

ONTHORING JAARLIKS

Volgens Kinnear onthoring hulle jaarliks al hul renosters as beskermingsmaatreël wat sowat N$18 000 per renoster beloop.

“Selfs al onthoring ons die renosters, is die stropers so wreed om ’n verskalfie met ’n klein horingstompie te stroop,” het Kinnear gesê.

“Ons het ook ’n teenstropingseenheid op die plaas wat patrollies loop en nagskofte doen” wat ook ’n reuse-uitgawe is.

Dit is nie die eerste keer dat die Kinnears onder renosterstropers deurloop nie. Net voor Kersfees in Desember 2016 is 'n stoetbul en 'n dragtige koei wat besig was om te kalf, gestroop en hul horings verwyder. ’n Jong bul en ’n agtjarige vers is gekwes, maar die vers is ’n maand later weens haar erge skietwonde dood.

Vyf verdagtes is in verband met dié saak aangekeer. Hulle is die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, en mnre. Domingo Justice Moma, Erwin Tjiteere, David Stephanus en ’n plaaswerker, mnr. Zee Shekumba.

Kandjii staan tereg op verskeie klagte van renosterstropery, asook in verband met die roof- en moordsaak op ’n plaaseienaar van Kalkrand, mnr. Reinhard Schmidt, in Februarie 2015.

Kandjii en kie verskyn weer op 20 November in die hof. Hy is steeds in aanhouding.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!