Eenstopwinkel ’n toekomsdroom

By hierdie winkel op Keetmanshoop word alles van matriekafskeidrokke tot trourokke op bestelling gemaak.
Tanja Bause
Tanja Bause – Ses jaar gelede het me. Sarah Motinga, ook bekend as Blompot, haar naaldwerkbesigheid op Keetmanshoop begin.

“Ek het naaldwerk by my ouma geleer en drie jaar by die College of the Arts in Windhoek modeontwerp studeer,” het sy gesê. “My kliënte wys vir my ’n foto en dan sê ek vir hulle presies wat hulle moet koop. Sodra hulle dit terugbring, maak ek wat hulle wil hê. As ek sien iets gaan nie werk nie, sal ek veranderinge voorstel.”

Motinga maak onder meer matriekafskeidrokke, trourokke en strooimeisie- en strooijonker-uitrustings asook koorklere. Sy trek ook skoene met lap oor sodat dit by ’n rok of uitrusting pas.

“Ek het op ’n dag so na my skoene gekyk en gedink ek moet dit met lap oortrek. Dit kan immers nie so moeilik wees nie. Nou ja, ek het dit probeer en nou doen ek dit, en baie kliënte is mal daaroor.”

Haar grootste droom is om eendag haar eie fabriek op Keetmashoop te besit. “Ek wil agter sit en werk, en langsaan moet die winkel wees waar mense klere kan koop wat hier gemaak word. Só wil ek werk skep en vroue van Keetmanshoop leer om klere te maak. Nie net klere nie – hier moet ook iemand wees wat juwele kan maak, dalk ook skoene en handsakke. So wanneer iemand by die winkel uitstap, het hulle alles wat hulle vir ’n nuwe uitrusting benodig,” vertel Motinga.

“Ongelukkig het ek nie nou die geld om mense groot salarisse te betaal nie, maar as daar jong vroue is wat belangstel, sal ek hulle graag oplei. Met uithouvermoë en in die toekoms wanneer die fabriek staan, sal ons wel geld maak.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!