Eers onnie, toe hoenderboer

Ná ’n slegte skooldag het sy op die ingewing van die oomblik 300 kuikens gekoop en haar “hart en siel” in braaikuikenboerdery verloor.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Harde werk en fyn beplanning het ‘n aanvanklike impulsiewe besluit in ‘n lonende boerdery omskep. Op die manier kon Helga van der Merwe ‘n braaikuikenboerdery buite Grootfontein in ‘n kwessie van vier tot vyf jaar van 300 tot 1 800 kuikens laat groei.

Dit was egter nie ‘n maklike pad nie, sê sy.

“Dis nie een van daardie boerderye wat jy op die stoep sit en koffie drink nie.”

“Jy moet jou hart en siel insit. Daar gaan dae wees wat jy wonder wat jy doen, maar druk net deur, dit is lonend.”

Sy sê die boerdery vereis fyn finansiële beplanning en dat jy nooit moet oorbestee nie. Sy het onlangs haar boerdery uitgebrei en moet veral nou noukeurig beplan.

BEGIN

Van der Merwe was aanvanklik ‘n onderwyseres by ‘n plaaslike staatskool.

“Ek het een dag ‘n verskriklike slegte dag gehad en ek het daardie dag besluit om te bedank. Toe Google ek ‘how to make money’.

“Ek het toevallig op die braaikuikens afgekom en gedink dit lyk of dit werk, ek kan mos maar klein begin,” vertel sy.

“Ek het daardie dag 300 braaikuikens bestel. Ek het nie ‘n hok gehad nie, ook nie voerbakke of waterbakke nie. Ek het vier weke gehad om alles gereed te kry.”

Van der Merwe sê sy het in die motorhuis begin en aanvanklik al die werk self gedoen.

“Dit was rof. Boonop was ek die ma van ‘n klein seuntjie.

“Ek het rondgebel en met baie mense gesels wat weet hoe. Ek het baie raad gevra.”

BOERDERY

Van der Merwe boer nou met 1 800 kuikens van verskillende ouderdomme in vier hokke. Sy slag 900 hoenders per maand, of 450 elke twee weke.

“Die kuikens vat vier weke, vandat jy dit bestel, om te kom en dan nog ses weke voor jy hulle kan slag. Die hele proses neem dus tien weke,” het sy verduidelik.

Sy sê om dagoudkuikens te verkoop, moet jy ‘n lisensie en die broeipare besit. Sy koop haar kuikens by Day Old Chickens, wat dit vir haar tot op Grootfontein koerier. “Dis ‘n goeie en vinnige proses. Die kuikens kom gesond, lewend en piekfyn hier uit. Dan is hulle ‘n dag oud en dan maak ek hulle groot.”

RESEP

Van der Merwe sê die dagoudkuikens moet dadelik onder rooi ligte geplaas word sodat hulle hitte kan kry, asook water en kos.

“Hulle bly vir twee weke onder dié ligte. Hulle mag nooit koud kry of nat word nie. Die oomblik as hulle stres of koudkry, veroorsaak dit ‘n knak in hul groeikurwe en weeg hulle op die ou einde ligter as wat hulle moet.”

Van der Merwe sê sy volg Feedmaster se voorskrifte oor pluimveeboerdery en voer. In Namibië word die Ross 308-hoender vir braaikuikenproduksie gebruik, omdat dit vinnig groei.

“Een ding wat baie belangrik is, is higiëne. Jy moet eers die hokke ontsmet voor nuwe kuikens daarin geplaas word. Die hele slagproses moet ook baie higiënies wees.”

VOER

“Baie mense probeer om koste te spaar en maak hul eie voer. Ek persoonlik voel Feedmaster se voerprogram is spesifiek vir hierdie hoenders se behoeftes uitgewerk en jy gaan nie spaar deur jou eie ding te probeer doen nie,” sê Van der Merwe.

“As jy nie ‘n mark het nie, gaan jou hoenderboerdery nie werk nie. Hulle moet ná ses weke geslag word, hulle wag nie vir jou nie.”

Sy sê sy was baie gelukkig om ‘n afset vir haar hoenders op Swakopmund te kry, waar sy tussen 300 en 400 kg verwerkte hoender per maand lewer.

Van der Merwe sê tydens die Covid-pandemie het talle mense wat hul werk verloor het pluimveeboerdery probeer, maar gou weer opgehou.

“Met ‘n hoenderboerdery kan jy nie in die eerste jaar winste maak nie, dit werk nie so nie. Die insetkoste en toerusting is baie duur.”

Sy sê om ‘n sukses van ‘n pluimveeboerdery te maak, beteken jy moet so veel as moontlik self betrokke wees.

“Jy moet elke dag kyk dat jou werkers die reëls vir higiëne volg en na biosekuriteit omsien. Jy moet self betrokke wees en ‘n kop vir besigheid hê.”
[email protected]

FOTO’S Elvira Hattingh
Van der Merwe volg Feedmaster se voerprogram, wat spesifiek vir die Ross-308 braaikuikens ontwerp is.

Ná aflewering moet dagoud-kuikens dadelik onder die rooi ligte geplaas word sodat hulle hitte, water en kos kry.

Helga van der Merwe het haar braaikuiken-boerdery buite Grootfontein binne vyf jaar van 300 tot 1 800 kuikens laat aangroei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!