Eers reu00ebn, dan Kersfees
Eers reu00ebn, dan Kersfees

Eers reën, dan Kersfees

Alhoewel reënvooruitsigte vir die huidige seisoen positief bly, is daar vroeë aanduidings die 2022–’23-seisoen kan minder belowend wees.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Reënvooruitsigte in die noordelike dele van Namibië is besig om te verbeter, met bogemiddelde reën wat in Desember op plekke noord van Otjiwarongo verwag word.

Die sentrale dele van die land kan goeie reën vanaf 18 tot 24 Desember verwag, terwyl die Suide slegs ligter reën voor Kersfees moet verwag.

In sy jongste weervooruitskouing wat Woensdag uitgereik is, sê Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbouweerkundige, Namibië se grootste reënvenster behoort tussen 10 en 24 Desember oop te maak.

Van den Berg sê La Niña is nou in volle swang, met bogemiddelde reën wat in Desember en Januarie in die somerreëngebiede van Suider-Afrika verwag word, terwyl winterreëngebiede nog tot in die eerste deel van Desember reën kan ontvang.

’n La Niña-gebeurtenis word meestal met toestande in Suider-Afrika vereenselwig wat natter as gewoonlik is.

“Met die La Niña-toestande in plek en die kleiner invloed van die Indiese Oseaan-dipool (IOD), bly vooruitsigte vir gemiddelde tot bogemiddelde reën vir somerreënvalgebiede positief,” het hy geskryf.

Van den Berg meen die feit dat sekere dele minder reën as wat voorspel is in Oktober en November ontvang het, moet ’n waarskuwing wees swaar reën kan volg.

“Dit blyk die impak van die La Niña is wêreldwyd vertraag, maar dit sal uiteindelik uitspeel soos verwag,” sê hy.

Hy sê Suid-Afrika het in November die meeste reën oor sy noordelike, sentrale en suidoostelike dele ontvang.

Intense laedrukstelsels het in November tot swaar reën in die buurland gelei; met vloedtoestande wat in die Tuinroete en George voorgekom het. Dit terwyl Gauteng ook swaar reën in die laaste week van November ontvang het.

ENSO

Van den Berg sê tans word die La Niña nog as swak geklassifiseer en is alle Niño-gebiede in die tropiese Stille Oseaan nog net tussen 0,5 °C en 1 °C koeler as normaal.

“Na verwagting sal die gebiede tot in Desember verder afkoel tot dit sowat 1,3 °C koeler as normaal is, wat ’n matige La Niña sal meebring – bykans dieselfde as tydens die 2020-’21-reënseisoen.

“Volgens voorspellings sal die huidige La Niña tot omtrent Maart of April volgende jaar duur,” sê Van den Berg.

“Die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), wat ’n maatstaf is van die verband tussen seeoppervlaktemperature en oorhoofse weerstelsels, bly positief vir die vyfde opeenvolgende maand.”

Van den Berg sê dit is beduidend dat die SOI sedert Julie vanjaar konsekwent ’n La Niña-patroon handhaaf.

Die IOD is in ’n neutrale fase en sal na verwagting in die komende maande onveranderd bly.

Hy sê alhoewel dit nog baie vroeg is, is daar aanduidings die 2022-’23-reënseisoen óf neutrale Enso-toestande sal handhaaf of “El Niño-agtig” sal wees.

“Dit, ten spyte van die sogenaamde natsiklus waarin ons verkeer, wat na verwagting tot omtrent 2025 sal duur.

“’n El Niño kan dié siklus omvergooi,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!