Eerste bloubessies op Mashare geplant
Buiten vir Europese uitvoermarkte wat dié projek ontsluit, kan dit oor drie jaar tot 600 werksgeleenthede skep en plaaslik kommersiële byeboerderye tot stand bring.
Elvira Hattingh - Geskiedenis is verlede Maandag (18 Nov) gemaak toe die eerste 20 ha bloubessies vir kommersiële produksie in Namibië deur Mashare Berries Farming naby Rundu geplant is.
Indien alles volgens plan verloop, sal dit teen volgende jaar reeds ‘n oes van minstens 150 ton bloubessies lewer. Vanaf die tweede jaar lewer bloubessieplante nog groter oeste en namate die skema uitbrei, beoog Mashare om eindelik sowat 500 ton bloubessies per jaar te produseer.
Buiten vir die uitvoermarkte wat deur dié projek ontsluit sal word, kan dit oor drie jaar werk vir tot 600 mense verskaf en help om talle kommersiële byeboerderye in Namibië tot stand te bring.
Die projek beoog om veral jongmense aan te stel wat ‘n loopbaan in intensiewe landbou wil volg.
Köningstein Capital se mnr. Albert Basson, wat die Mashare-skema se beleggingsbestuurder is, sê daar is voorheen ‘n klein aantal bloubessieplantjies, as deel van ‘n toetsaanplanting, by Ausenkehr geplant.
Tog is dit nog nooit plaaslik vir kommersiële doeleindes verbou nie.
Basson sê Mashare Berries Farming is ‘n privaat inisitiatief en huur ‘n besproeiingskemaplaas onder die Groenskema, sowat 50 km oos van Rundu teen die Kavangorivier, van die regering. Die projek funksioneer heeltemal onafhanklik van die regering.
“Dit neem 'n wesentlike langtermynbelegging om so ‘n projek te ontsluit,” het hy verduidelik.
VERSKEEP VANAF SPANJE
Mnr. Izak Grobbelaar, die produksiebestuurder, sê voor die eerste bloubessies geplant kon word, moes die besending van 160 000 plantjies vir 22 dae per skip vanaf Spanje na Mashare reis.
“Dit neem sowat 18 dae op die water, waarna die plantjies nog drie dae in die hawe vertoef om klaring te kry. Dan neem dit nog ‘n dag om dit na Mashare te vervoer,” het hy verduidelik.
“Hierdie plantjies is die spesifieke variëteit wat geskik vir Namibië se klimaat is. Dit is eintlik ‘n Amerikaans-Meksikaanse bloubessiesoort,” het hy gesê.
Hy sê die verskaffer van spesifiek hierdie plantjies hoop om dit in die toekoms ook in Suid-Afrika beskikbaar te hê, wat logistieke en vervoerreëlings vir die projek kan vergemaklik.
Grobbelaar sê hulle mag nie self saailinge maak, verkoop of dit probeer vermeerder nie. “Dit is gelisensieerde variëteite wat gekoop móét word. Jy teken baie streng kontrakte met jou verskaffers,” het hy gesê.
Grobbelaar sê hulle beplan ook om van die plantjies in te vlieg, wat beteken dit sal binne vier dae vanaf Spanje by die skema aanland.
“Ons gaan beide metodes van vervoer inspan om te sien wat die beste werk as dit by die koste en die gesondheid van die plantjies kom,” het hy verduidelik.
Die meerjarige bloubessieplantjies word natgemaak met water vanuit die Kavangorivier. “’n Volwasse bloubessieplant benodig sowat 4 liter water per dag. Dit beteken 20 ha sal sowat 640 000 liter water per dag benodig,” het Grobbelaar gesê.
Basson sê bloubessieplante se eerste oes is aanvanklik klein - dit raak eers sterker vanaf jaar twee. “Ons hoop om volgende jaar sowat 10 ton bloubessies per ha te oes en altesaam dus sowat 150 ton te lewer. Oor vier jaar wil ons 500 ton oes,” het hy gesê.
Basson het verduidelik hul toekomsplanne sluit in dat Mashare volgende jaar ‘n proefaanplanting van 5 ha avokadobome sal begin, asook om binne die volgende vyf jaar 150 ha onder bloubessies op Mashare te vestig.
Hy sê hoewel van die bessies ook aan die aansienlik kleiner Namibiese mark gelewer sal word, beplan hulle om 90% van die oesvolume uit te voer. Dit sal hoofsaaklik na Brittanje, maar ook Europa gaan, het hy gesê.
WERKSGELEENTHEDE
Die projek sal ook talle nuwe werksgeleenthede skep. “As daar jongmense is wat ‘n loopbaan in intensiewe landbou wil volg, moet hulle ons kontak. Ons is gedurig opsoek na jong talent,” het Basson gesê en verduidelik dat wanneer die skema eers oor 150 ha onder bloubessies beskik, sal hulle baie meer werknemers benodig.
“Elke blok van sowat 20 ha bessies sal ‘n produksiebestuurder op ‘n permanente basis benodig. Dit beteken oor die volgende vyf jaar sal ons ses of sewe tuinboukundiges moet aanstel. Daarby sal ons ook pakhuisbestuurders moet aanstel,” het Basson gesê.
Grobbelaar sê die projek verskaf tans werk aan sowat 60 stukwerkers, wat reeds drie maande lank werk.
“Noudat die eerste plantjies geplant is, moet twintig mense permanent aangestel word. Tydens volgende jaar se oestydperk, wat sowat vier maande lank duur, sal 170 plukkers gehuur moet word.
“Dit is net in die eerste jaar. Die aantal werksgeleenthede kan oor drie jaar na tussen 400 en 600 styg,” het Grobbelaar gesê.
BYEBOERDERY
Mashare het ook met hul eie byeboerdery begin, met mnr. Daniël Grobbelaar aan stuur hiervan. Hul plan is eerstens om seker te maak hulle het genoeg byekorwe vir die eerste bestuiwing van die bloubessies.
Tweedens wil hulle korwe van die regte gehalte plaaslik verkoop aan mense wat byeboerderye wil begin.
“Ons voer bye op ons spesifikasies in en is bereid om van die korwe te verkoop aan belangstellendes wat dit weer vir bestuiwing aan ons sal terugverhuur. Dit sal teen sowat N$1 100 per korf verkoop word,” het Basson gesê.
Dit sluit belasting in en is heelwat goedkoper as die gemiddelde N$2 000 wat ingevoerde byekorwe kos.
Mnr. Lourens Le Grange (stet), wat aan die stuur van die operasies op Mashare is, het verduidelik hulle sal “wedstryd-fikse korwe” vir N$600 per week huur.
“‘n Byekorf word vir sowat agt weke op ‘n slag gehuur. Om egter as ‘wedstryd-fiks’ te klassifiseer, moet dit aan streng spesifikasies voldoen, wat onder meer insluit dat dit nie minder as 1 kg kan weeg nie. Mashare self kan meer inligting oor die tegniese vereistes verskaf,” het hy gesê.
Alhoewel kommersiële byeboerderye nog nie sterk in Namibië gevestig is nie, hou Mashare ‘n lys van bestaande boere by. “Ons werk ook met plaaslike gemeenskappe in die Rundu-gebied om oor die langtermyn in byeboerderye te belê en dit as ‘n besigheid te bedryf,” het Basson gesê.
Basson sê Mashare het reeds verskeie plaaslike inligtingsdae gereël met die veteraan-byeboer en konsultant, mnr. Nico Langenhoven van Suid-Afrika. Hy het belangstellendes in Namibië oor byeboerderye kom toespreek.
Namibiërs wat in kommersiële byeboerderye belangstel, kan vir mnr. Daniël Grobbelaar by 081 233 7740 bel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie