Eerste dame se inentveldtog skop af

Tydens die opening van die #LoveProtects: #DoYourPart-inentingsveldtog wat vroeër vanjaar deur die presidentsvrou van stapel gestuur is, is die belangrikheid van akkurate inligting rondom inentings beklemtoon.
Yandi Du Plessis
Mariselle Stofberg

Die eerste dame, me. Monica Geingos, het tydens die opening van die #LoveProtects: #DoYourPart-inentingsveldtog gesê sy en haar gesin het besluit vanaf eerskomende Vrydag sal geen persoon wat nóg nie ingeënt is nie, nie in hul huis welkom wees nie.

Dié veldtog is in Junie vanjaar deur Geingos van stapel gestuur met die doel om die ministerie se boodskap oor Covid-19 en die belangrikheid van inentings te benadruk.

Die veldtog dien ook as ’n ingryping teen die fopnuus oor inentings wat tans die ronde doen. Die veldtog het ten doel om akkurate en geloofwaardige inligting met die publiek te deel en sodoende meer mense aan te moedig om hulself te laat inent.

As deel van die veldtog is besluit om met die OmniCare Trust en die Vaccination for Hope-veldtog hande te vat om inentingspunte in nedersettings en woonbuurte in Windhoek te dryf. Dit het gister afgeskop en sal tot 27 Oktober duur.

Hierdie opwip-mobiele inentingspunte sal in samewerking met OmniCare Trust en hul bestaande mobiele infrastruktuur gedryf word. Die eerste hiervan het gister tussen 10:00 en 17:00 voor die nywerheidstalletjies in Katutura plaasgevind.

Geingos het haar tydens die openingseremonie sterk uitgespreek teenoor die gerugte en fopnuus oor inentings wat versprei word.

“Deur die inentings te ontvang, kan ons onnodige sterftes voorkom. Ek is ’n gesonde mens, en het nie dadelik gespring om ingeënt te word nie. Toe ek Covid gekry het, was my eerste gedagte hoe skuldig ek voel omdat ek nie dadelik vir die inenting gegaan het nie. Hoe ek die geleentheid gehad het om myself en my familie te beskerm, maar dit nie onmiddellik aangegryp het toe dit beskikbaar was nie,” het Geingos gesê.

“Ek het gesien hoe hierdie virus mense in die fleur van hul lewe neem. Ek het familie wat by die dood omgedraai het oor Covid. Ek, die span hier vandag, dokters, die media en vrywilligers sal nie ons huise verlaat om hier te staan en leuens te versprei nie.”

Elkeen wat hul gister laat inent het, het onder meer ’n T-hemp, inligting oor Covid in hul moedertaal, handreiniger en kopseerpille ontvang.

“Soms kla mense oor kopseer ná hul inenting, en ons wou graag hierdie pakkies saamstel om jou deur die proses te help. Ons wil ’n ieder en ’n elk aanmoedig om die stap te neem om jouself en jou familie te beskerm,” het Geingos gesê.

SAMEWERKING

Windhoek se onderburgemeester, me. Clemencia Hanases, was dankbaar vir die samewerking en ondersteuning tussen partye om die veldtog moontlik te maak.

“Die pandemie het nuwe dringendheid, ’n algemene doelwit en rigting aan die land gegee. Ons sien hoe die regering en die privaat sektor hande vat en saamstaan. Saam kan ons teen hierdie virus veg, maar dan het ons almal se hulp en ondersteuning nodig. Dit is vir ons van kritieke belang om bewustheid en dringendheid onder die gemeenskap te skep rakende die noodsaaklikheid van inentings,” het Hanases gesê.

Geingos het voorts gesê indien Covid ’n toets vir die mensdom was om te sien of die gemeenskap sal saamstaan in tye van nood, sou die wêreld heel waarskynlik die toets gedruip het.

“Ons is verdeeld oor klein goedjies, soos die geldigheid en geloofwaardigheid van die inentings. Die politiek en fopnuus rondom inentings, godsdienstige en kulturele norme wat die Covid-syfers in die streke laat toeneem, en ons onvermoë om saam te werk, sal maak dat Covid nooit weggaan nie. Ons moet ophou baklei oor klein goedjies, en hande neem om te doen wat ons kan in die stryd teen Covid. Immunisering is die eerste stap,” het Geingos gesê.

#LOVEProtects het sedertdien ook veeltalige video's uitgereik waarin Namibiërs aangemoedig word om hul inentings te ontvang, en het ook verskeie inligtingsessies oor 'n magdom onderwerpe met kundiges aangebied, asook ondersteuningsdienste vir geestesgesondheid en 'n tolvrye beradingslyn begin. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 29° Ruacana: 20° | 32° Tsumeb: 19° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 19° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 26° | 38° Keetmanshoop: 24° | 38° Aranos: 25° | 37° Lüderitz: 18° | 33° Ariamsvlei: 22° | 38° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 34° Antananarivo: 16° | 24° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 20° | 26° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 27° #REF! #REF!