Eerste dosisse Astra moet gegee word
Henriette Lamprecht – Landswye immuniseringspunte mag nie persone weier wat ’n eerste dosis AstraZeneca wil ontvang nie.
Dit volg nadat verskeie mense wat dié dosisse wou ontvang, in verskeie streke weggewys is. Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het dit in ’n skrywe op 12 Augustus baie duidelik gemaak dat “geen kliënt vir inenting” weggewys mag word nie, iets wat deur die minister, dr. Kalumbi Shangula, beaam is.
Die hoof van die land se taakspan en immuniseringsveldtog teen Covid-19, me. Petronella Masabane, het gister bevestig “persone wat eerste dosisse wil ontvang, mag nie weggewys word nie”.
Namibië het meer as ’n week gelede 75 000 dosisse AstraZeneca-entstof van Nederland ontvang. In die brief wat aan onder meer streekdirekteure van gesondheid, hoof- mediese beamptes en hoofde van hospitale, klinieke, apteke en gesondheidsentrums gestuur is, sê Nangombe die beperkte aantal dosisse moet geprioritiseer word vir uitstaande tweede dosisse.
Sedert die aankoms van die dosisse in die land, is vele immuniseringspunte egter volgens hom “oorval” met navrae en ’n aanvraag van mense wat die eerste dosis wil hê.
“Die ministerie waardeer die verhoogde aanvraag vir immunisering, maar hou steeds die behoefte in gedagte van individue wat hul inentingskedule wil voltooi en ten volle ingeënt wil wees vir verhoogde beskerming,” sê Nangombe.
Volgens hom moet distrikte kliënte prioritiseer vir die tweede dosis AstraZeneca en moet ander geskikte kandidate aangemoedig word om eerder Sinopharm te vat wat in voldoende hoeveelhede beskikbaar en net so doeltreffend is.
Nangombe maan egter dosisse AstraZeneca wat met sluitingstyd van klinieke oorbly, “moet nie gemors word nie, maar eerder op die basis van beskikbaarheid gegee word aan dié wat eerste dosisse wil ontvang om te verseker elke enkele dosis word gebruik”.
Volgens hom moet voorkeur gegee word aan kliënte wat die risiko loop vir Covid-19, die wat ouer as 60 jaar is, persone met onderliggende mediese toestande en persone wat met gestremdhede leef.
Nangombe beklemtoon bogenoemde inligting moet onder die aandag van elke personeellid betrokke in die immuniseringsveldtog gebring word.
Op ’n vraag wanneer die land nog entstowwe en veral AstraZeneca kan verwag, het Masabane gister bloot gesê “ons gaan verskillende tipes entstowwe van verskeie bronne ontvang, is al wat ek in hierdie stadium kan sê”.
Nangombe het egter aan Jemima Beukes by ons susterkoerant Namibian Sun gesê Namibië gaan na verwagting 500 000 dosisse AstraZeneca “van ’n vriendelike land teen die einde van Augustus ontvang”.
Volgens Nangombe word die afleweringsdatum vir 40 800 dosisse AstraZeneca wat deur Covax gestuur moet word, egter voortdurend verander.
Teen gister het 76 507 mense hul eerste dosis AstraZeneca in die land ontvang. Vroeër die week is berig die pas van inentings het aansienlik afgeneem in al 14 streke, met 7% van die land se bevolking wat Maandag 'n eerste inenting ontvang het en 2% wat ten volle geïmmuniseer is.
As gesondheidsowerhede teen die einde van September 600 000 eerste inentings wil toedien, sal 85 000 eerste inentings elke week gedoen moet word – drie keer meer as die hoogste weektotaal dusver.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie