Eerste fase van VSA ambassade voltooi

Augetto Graig
Augetto Graig

Die eerste konstruksiefase van die nuwe Amerikaanse ambassade in Windhoek is voltooi en ’n seremonie is gehou om die geleentheid te vier.

Dié geleentheid het ook saamgeval met die oprigting van ’n staalbalk op die hoogste punt van die gebou.

Volgens die Amerikaanse chargé d’affaires, me. Jess Long, is die mylpaal betekenisvol “omdat dit die erns van die Verenigde State van Amerika (VSA) se toewyding tot samewerking met Namibië beklemtoon, en ons het baie belangrike werk wat voorlê”.

“Dié supermoderne ambassade sal die platform bied waarvandaan die Verenigde State en Namibië teen Covid-19, MIV/vigs en toekomstige pandemies wat die wêreld mag bedreig, sal veg. Die ambassade sal Namibië se vennoot wees in die opwekking van skoon krag vanaf sonkrag en groen waterstof. Sonpanele sal die helfde van die ambassade se elektrisiteitsbehoefte voorsien. Vanaf hierdie platform sal Namibië en die VSA albei ekonomië deur nuwe handelverbintenisse laat groei, soos ons met beesvleis, bier en houtskool gedoen het. Ons sal internasionale smokkelary en onwettige handel bekamp wat menseregte, wettige handel en wild bedreig,” sê sy.

Die ambassade word deur B.L. Harbert International namens die Amerikaanse staatsdepartement se Overseas Buildings Operations (OPO) gebou.

Altesaam 750 mense vanaf 21 verskillende lande is by die projek van US$17 miljoen (sowat N$270 miljoen) betrokke, insluitend sowat 630 Namibiërs en 30 bekwame ambagsmanne van ander lande met vorige ondervinding op OPO-bouprojekte wêreldwyd.

Mnr. David Bowling het namens B.L. Harbert gesê dis ’n tradisie om ’n balk op die hoogste punt van ’n gebou te plaas, en dit simboliseer eenheid en algemene menslikheid wat 21 nasionaliteite and 750 mense saambring om ’n gemene doelwit te bereik.

“Vandag toon die gebou lewe, en ons hoop om ons doelwitte deurlopend suksesvol na te jaag en te bereik. Ek is opgewonde om die uitdagings van die volgende boufase aan te pak,” sê hy.

Die projek wat verlede jaar in Julie afgeskop het, is voor skedule en word verwag om teen Januarie 2024 operasioneel te wees.

Me. Jennelly Matundu, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking wat verlede jaar by die sooispitseremonie teenwoordig was, het gister gesê die verhouding tussen Namibië en die VSA staan al vir 31 jaar lank sterk.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning,” sê sy en noem handel, die bemagtiging van vroue en meisies, gesondheid en welsynsondersteuning as voorbeelde.

“Die ambassade beliggaam Amerika se voortdurende teenwoordigheid en ons blywende gees van vriendskap. Geen uitdaging is groter as ons kapasiteit om ons vriendskap te verleng en te behou nie,” sê sy.

Die perseel van ongeveer 5 hektaar in Klein Windhoek in Nelson Mandelarylaan sal uit verskeie geboue bestaan, insluitend drie toegewyde toegangsbeheergeboue, behuising vir Amerikaanse soldate, onderhoudsgeriewe, watersuiwerings- en kragopwekkingskamers, ’n parkeerterrein en die nuwe kantoorgebou waar 165 werkstasies die personeel sal huisves.

Die Amerikaanse sentrum sal onderwys- en kultuurgeleenthede aanbied en ’n versameling deur Amerikaanse en Namibiese kunstenaars uitstal.

Altesaam 97% van die bourommel sal herwin word, terwyl die gronde met inheemse plante versier sal word en ’n tuin op die gebou se dak gekweek sal word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!