Eerste getuie geroep in Eichoff-moordverhoor
Eerste getuie geroep in Eichoff-moordverhoor

Eerste getuie geroep in Eichoff-moordverhoor

Die verhoor van die jong boer wat daarvan beskuldig word dat hy 'n oortreder op 'n plaas doodgeskiet het, het begin.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Mnr. Jochen Mengo, ’n vriend van mnr. Cornelius Slinger (51) wat op 6 Oktober 2013 na bewering deur mnr. Karel Friedrich Eichoff (35) op sy pa se plaas noordoos van Hochfeld in die Okahandja-distrik doodgeskiet is, het verlede week in die streekhof in Windhoek getuig.

Eichoff, wat tereg staan op klagte van moord, dwarsboming van die gereg of poging daartoe asook dieremishandeling, het op die klagte van moord en dieremishandeling onskuldig gepleit.

Die eerste dag van verlede se hofverrigtinge het Woensdag begin met ’n inspeksie van die Eichhoffs se plaas waar die beweerde skietvoorval plaasgevind het.

Mengo het Donderdag voor landdros Elina Nandago getuig dat hy saam met Slinger in die Brabant-nedersetting naby die Eichoffs se plaas gebly het. Volgens Mengo het Slinger op 6 Oktober aan hom gesê dat hy sy honde gaan neem om na vermiste bokke te gaan soek.

Toe Slinger ná twee dae nog nie van sy soektog teruggekeer het nie, het Mengo die polisie daarvan in kennis gestel, het hy getuig. Omdat een van die honde met ’n besering aan die voorpoot wat soos ’n skietwond gelyk het, vanuit die rigting van die Eichoffs se plaas Vergelegen teruggekeer het, het die soektog daarheen gelei.

Mengo is deur ander inwoners van Brabant vergesel op soek na Slinger. Die soekgeselskap het op ’n gebied afgekom wat sleg ruik, het Mengo verder getuig, en kort daarna het hulle ’n dooie hond gevind en ook ’n erdvarkgat wat met sand en struike toegemaak was wat vir hulle verdag gelyk het. Die polisie is toe ontbied en Slinger se lyk is onder die bosse gevind, het Mengo aan die hof vertel.

Op dag drie van die verhoor is Mengo deur adv. Louis Botes, Eichoff se regsverteenwoordiger, gekruisondervra oor polisieverklarings wat hy ná die voorval afgelê het.

Mengo het eers getuig dat hy net een polisieverklaring afgelê het. Tydens kruisondervraging het hy egter erken dat daar twee handgeskrewe en twee getikte verklarings deur hom onderteken is. Volgens Botes verskil die inhoud van dié verklarings wat op vier verskillende geleenthede onderteken is, van mekaar. Mengo het getuig dat ’n taalprobleem tot die teenstrydighede aanleiding gegee het. Volgens sy getuienis is hy nie Engels magtig nie en kon die beampte wat die veklarings afgeneem het, nie Otjiherero verstaan nie.

Mengo het ook erken dat hy nie kan lees of skryf nie, maar dat hy ten spyte daarvan die verklarings onderteken het. Mengo het verder getuig dat die polisie in Otjiherero met hom gepraat het en dat hy in Otjiheroro geantwoord het en dat die verklarings toe in Engels gedokumenteer is. Nie een van die verklarings maak melding dat ’n tolk teenwoordig was nie. Botes het aan Mengo gestel dit is duidelik uit die vier verskillende verklarings dat hy nie geweet het wat bespreek is voordat hy dit onderteken het nie.

In Eichoff se borgtogaansoek aan die einde van 2015 het hy getuig dat die noodlottige skietvoorval ’n onvoorsiene ongeluk was wat gebeur het toe hy op ’n trop honde naby ’n watergat op sy vader se plaas geskiet het. Hy het ook getuig dat hy erg geskok was toe hy ’n gewonde man op die toneel gevind het. Die man het op die toneel gesterf en’n geskokte en paniekbevange Eichoff het toe besluit om hom in ’n erdvarkgat te begrawe.

Die verhoor is tot 29 Januarie 2018 uitgestel.

Eichoff word deur Botes en mnr. Willem Visser verteenwoordig terwyl staatsaanklaer Menencia Hinda namens die staat optree.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!