Eerste gevegte by Wanderers
Eerste gevegte by Wanderers

Eerste gevegte by Wanderers

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die 12 Round Boxing Academy gaan Vrydagaand sy eerste amateurbokstoernooi by Wanderers in Pionierspark aanbied waar drie van die Wit Hingste se oudrugbyspelers in aksie gaan wees.

Riaan Coetzee, afrigter en eienaar van dié boksakademie, sê sy boksers is gereed om hul loopbane met mening te pak. Vier van Coetzee se aspirantkampioene het onlangs in hul eerste gevegte by die Suiderhof-weermagbasis in Windhoek geseëvier.

Die boksers

Die 15-jarige Patrick Karsten, leerder van Windhoek Hoërskool (WHS) wat ook vir sy skool op vleuel uitgedraf het, veg in die weltergewigafdeling (66 kg). Behalwe dat Karsten nou sy boks ernstig opneem, het hy vantevore sy hand aan die MMA-gevegsport gewaag. Karsten het op Donderdag 16 November sy eerste geveg met punte oor drie rondes gewen, al was sy 17-jarige teenstander ietwat meer ervare en dit sy derde geveg vir die aand.

“Patrick is bitter fiks en ongelooflik rats. Hy beskik oor baie goeie voetwerk en dis van die beste wat ek nog gesien het. Hy is egter te swaar en sal sy gewig na 58 kg toe moet afbring om as liggewig te boks,” sê Coetzee.

Gerhard Liebenberg sal Vrydagaand vir sy eerste geveg die handskoene aantrek. Die 26-jarige gewese flank van Wanderers wat ook sy voetwerk met muurbal geslyp het, staan vierkantig in die swaargewigafdeling (81 – 91 kg) en beoog om in die gewigsklas sy pad tot die Olimpiese Spele oop te slaan en daarna sy professionele debuut te maak.

“Weens Gerhard se bou slaan hy bitter hard, maar sy voetwerk laat hom soos ‘n veel beweegliker middelgewig dans. Sy vermoë om ‘n harde hou te kan vat, tel in sy guns en met sy baie goeie dissipline kan hy nog ver kom. Ek is van mening dat hy Vrydag sy teenstander vroegtydig gaan laat vertrek,” vertel die afrigter.

Die jong Ben Horn, ook ‘n 15-jarige leerder van WHS, het as stut vir sy skool opgedraf. Nadat Horn sommer heelwat kilogramme by Coetzee se boksakademie afgeskud het, laat klim hy deesdae die skaal se naald tot by 79 kg.

Horn, wat ook op 16 November in Suiderhof vir die eerste keer as ligswaargewig deur die toue geklim het, kon nie ‘n junior vind om sy nuutgevonde bokskuns teen te toets nie. Sy 27-jarige teenstander van die Namibiese Weermag (NDF) was duidelik nie teen Horn se aanslag bestand nie en is reeds in die eerste ronde planke toe gestuur om die vereiste telling aan te hoor. Horn het enduit baklei om die geveg met punte oor drie rondes te beklink.

“Terwyl Ben ‘n junior is, sal hy sy gewig so laag as moontlik moet hou - wat tussen 70- en 79 kg is. Hy het ‘n groot hart, want hy het geweet sy teenstander is langer en ouer as hy. Sy boksstyl is van die tipe waar hy sy teenstander met harde en reguit houe peper. Hy het Donderdag sy teenstander vinnig opgesom en die geveg binne ’n oogwink in sy guns geswaai,” het Coetzee gesê.

Die bekendste van Namibië se opkomende boksers is die 23-jarige DG Wiese wat al vir Namibië en Wanderers diens as haker op die rugbyveld verrig het. Wiese, wat die skaal op 89 kg trek, het op 16 November sy teenstander met gemak in die tweede ronde uitgeslaan. Ene Mokotsi van die NDF het twee keer harpuis geruik alvorens Wiese hom finaal oorrompel het.

“DG gaan dit nog ver as bokser bring. Hy boks tans as ‘n swaargewig, maar as ons sy gewig afbring dan kan hy as ligswaargewig baklei. DG het in sy eerste geveg gewys hy is rateltaai. Hy is met die kop gestamp, sy neus het erg gebloei en sy kop was geswel. Hy het om egter nie vir ‘n sekonde daaraan gesteur nie en eerder sy meer ervare teenstander met uitstekende voetwerk, kopbewegings en harde houe geklop. Alhoewel hy sy geveg met ‘n uitklophou gewen het, was sy opponent ‘n gevaarlike kalant wat DG behoorlik getoets het,” het die boksafrigter gesê.

“Ek wil ons borge Distell, Mikel Jes en Higway Importers hartlik vir hul bydrae bedank. Almal is welkom om die nuwe era wat amateurboks nou gaan betree, saam met ons te deel. Daar sal agt gevegte plaasvind en die toernooi behoort nie later as 22:00 klaar te wees nie. Ongelukkig moes Stef Botha, ons ander bokser wat in die hoofgeveg in aksie sou wees, ‘n skoueroperasie ondergaan en sal eers weer in 2018 reg wees,” het Coetzee gesê.

Vrydagaand se bokstoernooi begin om 18:30 in die hoofsaal by Wanderers in Pionierspark waar Gideon Nasilowski, die Namibian Amphibian, as aankondiger sal optree. Mikel Jes borg die aand se klank terwyl Distell vir die belangrike gaste se wyn gaan sorg. Izaan Viljoen van Highway Importers is nog ‘n borg wat die kompetisie ‘n sukses gaan maak. Belangrike gaste sal aan heerlike wyn en eetgoed kan smul.

Kaartjie is teen N$100 vir gewone sitplekke en N$200 vir belangrike gaste by Sipressstraat 12 in Suiderhof by die kantore van Evolve Sport & Rahabilitation beskikbaar.

Riaan Coetzee kan by [email protected] vir meer inligting gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!