Eerste groep in kwarantyn

Volgens die terugkerende Namibiërs is hulle met hul vertrek uit Amsterdam aan boord van die vliegtuig eers van die nuwe maatreël in kennis gestel.
Francoise Steynberg
Hoofredaksie - "Ons erken daar was wel haakplekke en dat die nodige inligting nie almal betyds bereik het nie, maar dat alles wat nou gedoen word die enkele doel het om die publiek te beskerm."

Só het mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, gesê oor die 35 Namibiërs en inwoners met permanente verblyfreg wat Saterdag om 10:00 met ‘n KLM-vlug uit Amsterdam by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland en onder kwarantyn by 'n lodge noord van Windhoek geplaas is.

Die 35 passasiers se paspoorte is ingeneem en hulle is nie toegelaat om in die lughawegebou deur immigrasie te gaan nie.

Hulle is van die vliegtuig af in twee munisipale busse na die Greiters Lodge en Konferensiesentrum by Brakwater geneem, waar hulle vir 14 dae in kwarantyn sal wees.

Die passasiers se families en geliefdes het uitgery om hulle op die lughawe te gaan ontmoet, nog onder die indruk dat hulle tuis in selfisolasie moet deurbring siende hulle uit Europa (Schengen-gebied) kom, wat ’n hoërisikogebied is.

Dit was die afgekondigde maatreël ingevolge die regeringsbesluit oor die Covid-19-noodtoestand.

Een van die ouers het aan Republikein gesê hulle is op die lughawe deur Nangombe meegedeel die groep sal saam onder kwarantyn geplaas word.

Hy het om verskoning gevra dat die passasiers se families nie vroeër so ingelig is nie.

Volgens ’n 19-jarige Namibiër wat in Duitsland studeer, is hulle met hul vertrek uit Amsterdam aan boord van die vliegtuig eers van die nuwe maatreël in kennis gestel.

OUERS BY LODGE

Emosies het Saterdagmiddag hoog geloop toe ouers hul kinders onder dié omstandighede by die lodge ná maande vir die eerste keer weer kon sien.

Lede van die Namibiese polisie en gesondheidsministerie het die passasiers met maskers en handskoene agter 'n geel polisielint en lae muur afgesper waar ouers en familielede op 'n afstand met hul kinders kon gesels.

Pas nadat die twee busse by Greiters aangekom het, was die atmosfeer onder 'n groep ouers gespanne.

Hul kinders werk en studeer in onder meer Duitsland, Oostenryk, Nederland en Skotland. Gemoedere het gekalmeer toe twee polisiebeamptes die ouers toegespreek het.

Die ouers het onderneem om mekaar en hul kinders te ondersteun en het 'n WhatsApp-groep gestig.

Nadat die groep in hul kamers ingedeel is, is foto's op die WhatsApp-groep gedeel van die swak toestand van sommige kamers.

"In sommige kamers is daar nie elektrisiteit en lopende water nie, so ons kinders kan nie eens hul hande was nie," het 'n ouer gesê.

Die ouers was dit eens dat die regering se gereedheid en maatreëls om hul kinders in kwarantyn te hou, nie in plek is nie, maar dat almal moet saamstaan om die lodge, wat leeg gestaan het, so higiënies en leefbaar as moontlik te maak.

Van die ouers het aangebied om skoonmaakmiddels te koop sodat hul kinders self kan skoonmaak, maar gisteroggend het 'n student per WhatsApp laat weet die groep is meegedeel geen besoeke deur familielede sal meer toegelaat word nie.

Ongelukkigheid heers ook oor die kos wat die groep ontvang. Vir gister se ontbyt het hulle ’n Weense worsie en sny bruinbrood gekry.

“Ons het gesonde kos en baie vitamiene nodig om ons weerstand te bou. Nou lyk dit of ons families ons nie mag besoek om vir ons kos te bring nie.

Later is bevestig dat ouers wel pakkies by die lodge se hek kan los, wat deur polisiebeamptes ingeneem sal word.

VROU MET KANKER

'n Vrou met fase 4-borskanker is een van die wat nou by die lodge in kwarantyn is.

Adv. Irene Visser (49) het gister aan Republikein gesê sy het vir oulaas vir twee weke in Frankryk gaan vakansie hou, min wetend dat 'n kwarantyn-situasie saam met 'n groep ander mense tuis op haar sou wag.

"Ek moet hierdie week chemoterapie kry en ek sal dit nie kan kry terwyl ek hier is nie," het sy in trane vertel.

"Hier is nie mediese personeel met wie ek my situasie kan bespreek nie."

Kankerlyers wat chemoterapie kry se weerstand is baie laag aangesien hul witbloedselle, wat immuniteit verskaf, afgetakel word.

"Wat ons frustreer is dat die plek baie vuil is. Oral lê muisuitwerpsels en die matte ruik sleg. Ons het die mense van die lodge vir skoonmaakmiddels gevra, sodat ons self kan skoonmaak, en hulle het vir ons gesê hulle het nie skoonmaakmiddels nie."

Visser sê sy is met regslui in kontak oor die moontlikheid van 'n dringende hofaansoek.

BRAKWATER-INWONERS

Verskeie klagtes is ook van Brakwater-inwoners in die omgewing van die lodge ontvang. Die inwoners meen dat die aanwesigheid van diegene in kwarantyn ook hul lewens in gevaar stel.

Volgens een van die inwoners is niemand vooraf in kennis gestel dat die lodge as kwarantynbasis gebruik gaan word nie.

Hy beweer ook gebruikte maskers en handskoene is langs die pad gelos.

Volgens hom is kennisse van personeel by die lodge glo gevra om te kom help, sonder dat hulle geweet het die lodge huisves persone wat van ‘n hoërisikogebied vir Covid-19 afkomstig is.

Die personeel is glo net laat weet die lodge huisves staatsbeamptes.

Die beswaarde buurman het die Covid-19-noodnommer geskakel, waartydens die operateur beklemtoon het dit kan net gebruik word om vermoedelike gevalle van die siekte aan te meld en/of om inligting oor die siekte te verkry.

'HOU ALMAL VEILIG'

Nangombe het beklemtoon die kwarantyn is ter ondersteuning van die noodtoestand wat deur president Hage Geingob verklaar is en dit ‘n poging is om “almal veilig te hou”.

“Ons kan nie enige kanse vat dat die siekte in ons gemeenskap en land versprei nie. Ons moet verseker daar is geen oordrag van die siekte in die gemeenskap nie, sodoende beskerm ons die gesondheid van elke persoon in die land,” het hy gesê.

Nangombe het ook verwys na nog ‘n KLM-vlug met Namibiërs wat tans in Europa gestrand is en later vandeesweek op Hosea Kutako verwag word. Volgens hom sal ook dié Namibiërs by die lodge gehuisves word en is daar genoeg plek hiervoor.

"Dit is kommerwekkend en verdubbel ons kinders se risiko," het 'n ouer hierop gereageer.

Ook sal die ministerie en alle verwante rolspelers hul uiterste bes doen om te verseker dat hul verblyf hier “so gerieflik as wat moontlik is” sal geskied.

“Baie van hulle (passasiers) is studente wat tans in Europa gestrand is omdat universiteite gesluit het en hulle nêrens anders het om heen te gaan nie.”

Hy het beklemtoon Namibiërs kan nie daarvan weerhou word om huis toe te keer nie.

“Hulle kan terugkom, maar is onderworpe aan baie streng maatreëls. Ons doen wat gedoen moet word in lyn met riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO).”

Nangombe het verskeie rolspelers soos die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC), die polisie, ontwikkelingsvennote asook die Windhoekse munisipaliteit bedank wat help om die operasie suksesvol te laat verloop.

Hy het ook ‘n beroep op die publiek gedoen om hande met die ministerie te vat en hul samewerking te gee.

KLM het toestemming gekry om Woensdagoggend met nog ‘n vlug terugkerende Namibiërs by Hosea Kutako te land. Intussen het die vlug wat Saterdagoggend geland het gister na Amsterdam teruggekeer met toeriste wat nog in Namibië was en gesukkel het om die land te verlaat. Dieselfde reëling geld vir die KLM-vlug wat Donderdag na Amsterdam sal terugkeer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!